Oets wat as ’n droom met ’n informele krieketspelery tussen ’n klein groepie ywerige sportliefhebbers op die plaas Alfalfa in die Scherpenheuwel-gebied begin het, het nou gegroei tot verskeie spanne wat op die been gebring is.
So is die Alfalfa All Stars-krieketspanne in 2022 gebore. Hulle het intussen so ver gevorder dat hulle onlangs aan ’n liga begin deelneem het.
Die Scherpenhewuel Agri Workers, ’n maatskappy sonder winsbejag, is gevolglik gestig sodat skenkings en ander aktiwiteite in ’n korrekte struktuur hanteer kan word. Sokker en netbal is onlangs hierby ingesluit en atletiek is ook deel van die beplanning vir 2024.
’n Groot sportdag is die afgelope Saterdag op die plaas gehou.
Die dag het begin met ’n pretdraf van die buurplaas Eudora af tot by Alfalfa. Sokker, krieket en netbal is teen mekaar gespeel en verversings is aan die groot getal toeskouers wat opgedaag het, verkoop.
Een van die baie positiewe uitkomste is die feit dat veral kinders en jongmense in die gebied hierby betrokke raak en nie meer ledig is en met verkeerde dinge besig raak nie.
Gesonde deelname en moeë spanspelers het tot gevolg dat mense nie meer kans sien om by dwelms en drank betrokke te raak nie. Dwelm- en alkoholmisbruik, asook tienerswangerskappe, is ’n wesenlike probleem in die gemeenskap.
Onder die leiding en borgskap van die werkgewer, Alfalfa Melkery, en verskeie borge is die All Stars-krieketspan in 2022 van sportdrag en toerusting voorsien.
Die Alfalfa City-sokkerspan is onlangs op die been gebring, doelhokke is hiervoor opgerig en sportdrag is deur ’n verskaffer geborg. Intussen is ’n netbalspan op die been gebring met borgskappe vir netbalpale en ander toerusting.
Tans het die spelers net een plek waar al drie sporte gespeel kan word. Hulle hoop die fasiliteite sal uitgebrei word om meer doeltreffende bane vir al drie sportsoorte aan te bring, asook spreiligte vir die wintermaande en pawiljoene en koeltebome vir toeskouers.
Tans word vervoer vir wegwedstryde deur die werkgewer verskaf, maar dit is nie op die langtermyn volhoubaar nie. Die spelers het ook ’n behoefte aan tekkies of toerusting vir die jongspan – seuns en meisies.
Scherpenheuwel Agri Workers wil ook die Breedevallei-munisipaliteit bedank vir hulp en bystand om projekte aan te pak en suksesvol deur te voer. Hulle kon byvoorbeeld vir elke vrou op die plaas ’n geskenkpakkie saamstel vir Vrouemaand, asook die komende weke se aktivisme teen geweld teen vroue en kinders ondersteun. ’n Suksesvolle sessie is voorts in samewerking met die SAPD en maatskaplike dienste aangebied, waar kinders tussen 6 en 12 oor die gevare van afhanklikheidsvormende middels ingelig is. Elke kind het ook ’n middagete by die sessie geniet.
. Kontak Almari van der Merwe by 079 493 3269 of per e-pos by almari@alfalfadairy.co.za om betrokke te raak, of vir skenkings in die vorm van sporttoerusting of finansiële bystand.




