Die treinspoor tussen Worcester en De Doorns is nou weer bruikbaar nadat dit in Julie weens erge oorstromings beskadig is.
’n Groot deel van die spoor het by Seekoeigat weggespoel as gevolg van aanhoudende reën, wat veroorsaak het dat die rivier afkom, en kon dus nie gebruik word nie. Die spoor is van 6 September af weer oop vir gebruik.
“Transnet kan bevestig bedrywighede op die Kaapse hoofspoorlyn tussen Worcester en De Doorns is op 6 September ten volle hervat ná die opknapping van die gedeelte wat in Julie erg deur oorstromings beskadig is,” het Transnet by navraag gesê.
Volgens die spoormaatskappy was die herstelwerk nie sonder uitdagings nie.
“Die spoorinfrastruktuur was aansienlik beskadig by De Wet en Sandhills, wat die sluiting van die hooflyn tussen Worcester en De Doorns genoodsaak het. Transnet se tegniese spanne het aansienlike uitdagings tydens die herstelproses aangepak. Kritieke aktiwiteite het die herlei van die rivier ingesluit, asook die stabilisering van die rivierwal en die rekonstruksie van elemente soos die spoorbeddens, dwarslêers en relings. Die kompleksiteit van die projek is verhoog deur erge weer, moeilike terrein en streng omgewingsregulasies. Transnet se spanne het ten spyte van hierdie uitdagings ywerig gewerk om te verseker dat die lyn tot ’n veilige operasionele standaard herstel is. Ons bedank ons ??kliënte en belanghebbendes vir hul geduld en ondersteuning gedurende hierdie tydperk.”
Standard Breederivier Gazette het ook gevra of die herstelde spoorlyn sterk stormweer kan weerstaan en hoeveel die herstelwerk gekos het, maar Transnet het nie op hierdie vrae reageer nie.





