Na mate die vakansie naderkom is daar ouers van Worcester wat veral bekommerd is oor ’n tekort aan spoedhobbels, veral naby openbare parkies.
Standard het die afgelope jaar berig oor kinders en selfs jong volwassenes wat raakgery is of deur voertuie getref is weens mense wat jaag en onverskillig bestuur.
“Ons is bekommerd oor die feit dat ons die behoeftes het en vra dat meer spoedhobbels opgerig moet word, maar dit lê altyd laag op die prioriteitslys van die dorp. Onskuldige kinders kry seer en hul lewens is in gevaar danksy moedswillige bestuurders wat jaag. Al hoe jaagduiwels se streke gestuit kan word, is as spoedhobbels opgerig word naby plekke waar veral kinders baie beweeg. Ons hier in Hexpark vra ook al vir ’n geruime tyd vir meer spoedhobbels, maar dit val op dowe ore,” meen Christo Appels, ’n inwoner van Worcester.
Nog ’n inwoner van Hospitaalheuwel wat verkies om anoniem te bly is egter van mening dat hulle al verlede jaar ’n pleidooi aan die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) gerig het om aandag te gee aan ’n soortgelyke behoefte.
“Kinders en veral jong kinders speel in die parkie in Taylorstraat waar mense aldag op-en-af jaag en onverskillig ry. Iemand gaan nog seerkry en dán gaan iets eers aan die situasie gedoen word. Hoekom moet ons altyd wag dat iets ernstigs of slegs gebeur voor aksie geneem word of standpunt ingeneem word?” vra hierdie inwoner aan Standard.
Die kommunikasiehoof by BVM, Chad Malgas, het aan Standard gesê dat die bywoning en aktiewe deelname aan die Geïntegreerde Ontwikkelingsplan-proses van kern belang is om hierdie soort kwessies op te los.
“Alle versoeke vir die oprig van spoedhobbels moet formeel op die wyksprioriteitlys geregistreer word. Inwoners moet met hul wyksraadslid of komiteelid kontak maak om hul behoeftes deur te gee. Inwoners word ook aangemoedig om deel te neem aan die twee formele GOP (openbare deelname-sessies) wat jaarliks in November /Desember en Maart / April geskied, aangesien dit ook as platform dien waar wyksbehoeftes gerig en bespreek word,” sê Malgas.
Malgas verduidelik voorts inwoners moet onthou hul behoefte-versoeke word oorweeg in oorleg met alle behoefte-versoeke wat vir die wyk deurgegee word. Dit is dus belangrik dat behoefte-versoeke voldoende gemotiveer word sodat die wyksraadslid of komitee ’n ingeligte besluit kan neem met betrekking tot die prioritisering daarvan. BVM tree dan in ’n adviserende en raadgewende hoedanigheid op en behoeftes word geprioritiseer en voor begroot.
Malgas sê egter ook die versoek vir ’n spoedhobbel in Taylorstraat en spesifiek in Wyk 6 (Hospitaalheuwel) is nie op die prioriteitslys nie.
“Die behoefte aan ’n spoedhobbel in Taylorstraat (naby die parkie), is nie op Wyk 6 se lys geregistreer in die vorige boekjaar (GOP), die huidige boekjaar, asook die opkomende boekjaar nie. Daar is egter geleentheid om die behoefte te registreer vir oorweging in die opkomende boekjaar, dus beveel ek aan dat die inwoners so gou as moontlik kontak maak met hul wyksraadslid of -komitee om uitsluitsel te kry oor hierdie aangeleentheid. Indien daar eenparigheid is rakende die noodsaaklikheid van die behoefte, sal ons dit op die lys byvoeg.”
Die inwoner stel dit egter dat hulle teleurgesteld is in hierdie benadering tot wyksbehoeftes.
“Ons het al verlede jaar verskeie kere die kwessie opgehaal en daar is gestel dat iets daaraan gedoen sou word. Dit is hartseer om te hoor dís nou die stand van sake.”





