Petrus Lombard in sy ouerhuis in Worcester.Foto: Ronél van Jaarsveld


Party oorwinnings is soeter as soet. Petrus Lombard van HTS Drostdy in Worcester het sy matriek met ses onderskeidings geslaag.

Wat sy prestasie merkwaardig maak, is dat Duchenne-spierdistrofie op vyfjarige ouderdom by hom gediagnoseer is – ’n progressiewe siekte waarin die spiere agteruitgaan.

Dié dapper seun het sy skoolloopbaan doelgerig en met ywer aangepak, ten spyte van uitdagings wat die spierdistrofie meegebring het.

“Dis nie akademie nie, dis pret!” begin hy die onderhoud met ’n glimlag. Petrus, wat nog kon loop toe hy in die Laerskool Worcester-Oos was, sê dat hy veiliger voel sedert hy in gr. 8 in die rolstoel skoolgaan. “Ek is maar altyd bang vir val, want die medikasie wat ek gebruik, verswak my beendigtheid.”

Petrus se ouers, Dolf en Susan, het versoek dat hy direk ná gr. 8 aangaan met sy gr.10-skooljaar.

“Ons wou graag gehad het dat hy matriek nog self kan skryf,” vertel sy ma, Susan. Ten spyte van die sprong was hy akademies steeds een van die toptien-leerlinge.

Dit het hy met vlieënde vaandels gedoen, ten spyte daarvan dat hy sy been vroeg in sy matriekjaar tydens ’n val gebreek het.

Hy het groot waardering vir sy onderwysers wat die ekstra myl geloop het om hom te ondersteun. “Van hulle het vir my klas by die huis kom gee en ander het vir my videos van die werk gemaak sodat ek nie agter raak nie,” vertel Petrus.

Van sy hoogtepunte in sy skoolloopbaan was om in vakke soos fisiese en lewenswetenskappe te leer hoe die wêreld werk. Sy uitdagings om in ’n hoofstroomskool te matrikuleer, was dat die skooldae soms lank geraak het en hy fisiek moeg was. ’n Mens sien ’n flikkering in dié jong man se oë wanneer hy vertel dat hy vasberade was om sy matriekjaar te voltooi.

In sy vrye tyd verdiep hy hom in wetenskapsfiksie met boeke deur onder andere Brandon Sanderson. Hy is lief daarvoor om Modded Minecraft te speel, maar gun homself net ’n uur en ’n half per dag sodat dit nie sy fokus van die akademie aftrek nie.

Sy ander groot liefde is skaak, want sy fikse brein is honger vir nóg uitdagings.

Hy het in Januarie ’n ministeriële toekenning van die provinsiale minister van onderwys, David Maynier, met die bekendmaking van die matriek-uitslae ontvang. Maar wat hou die jaar, wat so goed begin het, vir hom in? Met wysheid en rustigheid ver bo dié van die meeste agttienjariges, vertel Petrus van sy toekomsplanne. “Ek gaan vanjaar rekenaarprogrammering aanlyn deur Udemy studeer.”

Sy voormalige skoolhoof, Louis Steijn, sê Petrus het by Drostdy nuwe wêrelde vir almal oopgemaak. “Die kinders het perspektief gekry en besef nie almal kan rondhardloop nie, maar dat dit ’n mens nie hoef terug te hou nie. Hoewel Petrus fisiek verswak het, het hy akademies al sterker geword. Dit was ’n groot voorreg om dit te kon sien.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article