Ses jaar gelede, nadat ’n motorfietsongeluk in die Bainskloofpas hom verlam gelaat het, het Lyndon van Wyk nie kon dink dat hy ’n titel as Suid-Afrikaanse kampioen agter sy naam sou kon skryf nie.
Die 44-jarige Van Wyk, ’n speurder by die Worcester-polisie se moord-en-roof-eenheid, het van 6 tot 9 Februarie aan die Suid-Afrikaanse pad- en tyd-fietsren, wat deur die Midvaal-munisipaliteit aangebied is, deelgeneem.
Hy het nadat hy aan ’n 22-km- en ’n 55-km-tydren deelgeneem het, met ’n silwer en ’n goue medalje in die H3-afdeling vir handfietsryers weggery. Hy is met dié prestasie op sy kerfstok genooi om van 1 tot 4 Mei aan die wêreldkampioenskap in België deel te neem.
“Toe ek die fiets twee jaar gelede tweedehands by iemand gekoop het, was ek so opgewonde soos ’n kind. Ek moes iemand vra om my te help om dit aanmekaar te sit, want ek kon nog nie so gemaklik beweeg nie,” vertel hy.
“Dit het my ’n rukkie geneem om weer van spoed te hou. Aan die begin was ek skrikkerig as ek te vinnig met die handfiets gery het.”
Van Wyk ry die paaie om Worcester plat en skroom nie om die bulte aan te pak nie. Hy word gereeld ook op die paaie om Brandwacht en Rawsonville gesien. Hy is besig om voor te berei om in Maart aan die 109 km lange Argus-fietstoer deel te neem en skaars ’n week daarna die Outeniqua Wheelchair Challenge in George aan te durf.
Voor sy ongeluk het hy nie aan sport deelgeneem nie. “Die fietsry is vir my belangrik, want dit hou my kop besig en my lyf sterk.”
Vir dié entoesiastiese polisiebeampte was dit moeilik om nou agter ’n lessenaar in te skuif. “Ek was baie lief vir my werk en het ná die ongeluk gevoel ek kan nie meer my gemeenskap dien nie,” vertel hy.
Sy entoesiastiese ondersteuningspan bestaan uit sy vrou, hul drie dogters en ’n hegte vriendekring. Dié vriende het vroeër vanjaar ingespring en geldinsamelings gehou sodat Van Wyk aan die nasionale renne kon gaan deelneem.
Hy het egter hul verwagtinge ver oortref en as kampioen teruggekeer huis toe.
“Ek wil baie graag aan die wêreldkampioenskap gaan deelneem, maar die kostes is baie hoog. Ek het nooit verwag dat ek so geleentheid sou kry nie,” het hy laggend gesê. . Inwoners wat hom wil ondersteun, kan hom by 061 701 4426 bel.





