Met ’n diep liefde vir sport en musiek het Leonie Pelteret onlangs ’n liedjie vir die Bokke vrygestel.
“Ek het die liedjie eintlik in 2005 vir Bafana Bafana geskryf. Ek het destyds nog in Londen studeer en het vreeslik baie na Suid-Afrika verlang. Dit was deel van een van my projekte by die musiekskool daar. Ek het dit by ’n paar plekke in Londen ook gesing,” verduidelik Leonie.
Vir tien jaar het sy egter al haar energie en tyd aan haar sakeonderneming bestee, maar twee maande terug het sy besluit om die liedjie te herwin.
“Ek was in Pick n Pay en hulle het hierdie wit Bokke-hempies verkoop. Ek het onmiddellik vir Johan Groenewald, ’n ou kennis van my, gekontak. Hy het ’n recordng studio. Ek het toe al die back tracks vir hom gestuur en hy het alles bymekaar gesit en herskryf. En toe begin die liedjie “Amabokke back in town” vorm aanneem. Ek is ook lid van die groep die Kaapse Affodille, en ek het een van hulle gevra om op die liedjie banjo te speel. Ons het toe die liedjie weer record en een van die vroue wat by ons werk, doen die backing vocals op die liedjie.”
As sy die liedjie se klank beskryf, sê sy, wou hê die liedjie moes ’n “Cape Town party-feeling hê.”
“Jy moet voel asof jy gewen het wanneer jy daai liedjie kliphard speel. Daar is ook ’n bietjie van die klopse in die liedjie.”
Sy wou ook hê die “Amabokke back in town” moet ’n “positiewe impak op ons reënboognasie maak wat sukkel”.
Leonie se diep liefde vir sport het begin toe sy nog ’n klein meisietjie was. Haar pa, Jerry Avenant, was ’n rugby-skeidsregter en sy het saam met hom oral gaan rugby kyk en was amper elke Saterdag op die veld by Nuweland.
Die liedjie se bykomende musiekvideo sal binnekort vrygestel word.





