Meer en meer plaaslike ouers kla oor hul kinders met spesiale opvoedkundige behoeftes en die feit dat hulle nie altyd die nodige ondersteuning by skole ontvang nie.

Omdat daar net ’n handvol skole is wat ingerig is om sulke kinders voltyds te akkommodeer, moet hoofstroomskole aansoek doen vir finansiering om opgeleide onderwysers of assistente vir hierdie kinders aan te stel.

’n Ma van Montagu het onlangs beweer die hoof by die skool waar haar dogter ’n gr. 1-leerder is, het gesê daar is nie geld vir ’n assistent vir haar kind nie.

Volgens die ma is haar kind met ’n neurologiese toestand gebore en is sy dus nie so vinnig in die klas soos die ander leerders nie. Sy verduidelik verder dat haar probleme met die skool al verlede jaar begin het.

“Die probleem kom al van laasjaar aan wat ons sukkel om ’n assistent in die klas vir my dogter te kry. Die skool se hoof het my hand en mond belowe hy sal ons help, maar nou het hy handomkeer verander,” verduidelik die moedelose ma van die sewejarige meisie.

Volgens Millecent Merton, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, het die hoof vir finansiering aansoek gedoen.

“Die skoolhoof het by die distriksgebaseerde ondersteuningspan aansoek gedoen vir ’n assistent en is ingelig dat ’n pos nie tans beskikbaar is nie. Die skoolbeheerliggaam is nie in ’n finansiële posisie om by te dra tot die salaris vir ’n assistent nie,” verduidelik Merton.

Bronagh Hammond, ook ’n woordvoerder vir die departement, verduidelik geld vir hierdie poste word ná deeglike ondersoek opverdeel.

“Die geld wat vir gespesialiseerde poste toegeken word, word verdeel op grond van ’n deeglike behoeftebepaling wat deur die direktoraat vir inklusiewe en gespesialiseerde onderwysondersteuning uitgevoer word.

“Hierdie assessering neem verskeie faktore in ag, insluitend die aantal leerders wat ondersteuning benodig, die erns van hul behoeftes en die beskikbaarheid van bestaande hulpbronne by elke skool. Skole dien versoeke vir ondersteuning in deur die kringgebaseerde ondersteuningspanne, wat dan hersien en geprioritiseer word om billike verspreiding oor die Wes-Kaap te verseker,” verduidelik Hammond.

Vir die 2023-’24-skooljaar is 80 fasiliteerders aangestel. Die begroting was R4 032 000 en is daarmee uitgeput.

Sy verduidelik ook dat skole vroegtydig deur die regte kanale moet aansoek doen vir finansiering vir gespesialiseerde poste.

“Skole moet ondersteuningsversoeke deur hul onderskeie kringgebaseerde ondersteuningspanne indien, waarin die spesifieke behoeftes van hul leerders met gestremdhede en leerprobleme uiteengesit word. Die aansoeke word geëvalueer op grond van die erns van behoeftes, die skool se vermoë om hierdie behoeftes die hoof te bied, en die beskikbaarheid van gespesialiseerde personeel en hulpbronne. Prioriteit word gegee aan skole wat die mees beduidende en onmiddellike behoeftes demonstreer.”

Dit is duidelik dat daar tans ’n tekort aan gespesialiseerde skole en onderwysers is. Die departement meen hy is bewus van die groeiende probleem.

“Die departement erken die uitdagings wat kleiner gemeenskappe in die gesig staar om toegang tot gespesialiseerde onderwysdienste te verkry. Daar is voortdurende pogings om die beskikbaarheid van hierdie dienste uit te brei, insluitend die vestiging van meer gespesialiseerde eenhede binne hoofstroomskole en die ontplooiing van mobiele ondersteuningspanne. Hierdie inisiatiewe het ten doel om tydige en doeltreffende ondersteuning aan alle leerders te verskaf, ongeag hul ligging,” verduidelik Hammond.

Sy voeg by dat onderwysers by hoofstroomskole intussen steeds gereelde opleiding ontvang om leerders met gespesialiseerde behoeftes te ondersteun.

“Onderwysers ontvang gereelde opleiding en professionele ontwikkeling om hulle toe te rus met die vaardighede en kennis wat nodig is om leerders met spesiale onderwysbehoeftes te ondersteun. Dit sluit werksessies, opknappingskursusse en toegang tot aanlyn bronne in.

“Die departement is verbind tot deurlopende kapasiteitsbou om te verseker dat alle opvoeders goed voorbereid is om aan die uiteenlopende te voldoen.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article