Nadat ontwrigtende reënbuie gelei het tot die uitstel van wedstryde oor twee naweke in die Boland, is rugby weer Saterdag in alle erns hervat.

Aangesien die ligas onder die vaandel van die Boland Rugbyunie nou vinnig einde se kant toe staan, gee veral spanne wat nog ’n kans staan om die uitspele (top-12) te haal hul alles om met die louere te kan wegstap.

Dit is egter nie ’n maklike taak nie, met sommige spanne wat om oorlewing veg en dit bitter moeilik vir die groot perde maak.

Verlede Saterdag se uitslae in veral die Grootuitdaag-kompetisie was tekenend daarvan dat dit nie ’n gegewe is dat die voorlopers dit maklik gaan hê nie.

Eerskomende Saterdag (10 Augustus) kry Rangers Robertson besoek van die agterosse Bonnievale United, terwyl een van die voorlopers in die liga, Robertson Town, by die Van Zylstraat-stadion in Robertson besoek van die omgesukkelde Montagu Klub, oftewel Hou Blou Hou, sal ontvang.

Proteas, oftewel Prouks, van De Doorns ontvang besoek van Ashton United, alombekend as Unies.

Swellendam kry besoek van Worcester Villagers, oftewel Villa, terwyl Villagers Montagu, oftewel Sesduim, besoek van Rawsonville United sal ontvang.

Young Hamiltons, of Hammies, en Blue Birds van Bonnievale geniet komende Saterdag ’n loslootjie en pak mekaar eers op 31 Augustus in die Esselenpark-stadion in Worcester.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article