Die Robertson-sagtebalkrieket-unie het op Sondag 18 Februarie in sy derde ronde van die huidige Twintigboulbeurt-kompetisie gespeel. Spanne lewer tot dusver kookwater- mededingende krieket met die span van Die Stoep wat ná drie rondes die pas op die punteleer aangee.

Die naweek-uitslae is soos volg:

Pen United vs Superstars

Superstars het eerste gekolf en 69/10 in 17.1 boulbeurte bereik.

Uitblinkers met die kolf vir Superstars was Pilton (18) en Leroy (11). Vir Pen United het Durane 5/8 en Masiano 4/7 met die bal verwoesting gesaai.

Pen United op sy beurt was vroeg in die moeilikheid en kon net nie aan die gang kom nie, en is almal uitgeboul vir 43 lopies. Pang en Renaldo met 10 lopies elk was al kolwers wat ’n bietjie weerstand teen die Superstars-boulers kon bied. Denvor 4/15 en Ampie 3/8 het met die bal uitgestaan vir die manne in blou. Superstars het die wedstryd met 27 lopies gewen.

Indians vs Dorpsig Barbarians

Die manne van Dorpsig het eerste gekolf en is vir 73 lopies in 14.3 beurte uitgeboul. Uitblinkers met die kolf was Geoff en Pettie met 14 lopies elk. Vir Indians was Immel 3/10 en Danny 3/14 het leiding geneem met die bal. Indians op sy beurt was haastig om die teiken te haal en het 74/3 bereik, met Viaan 57 en Boy 28 wat die langsteel ingelê het.

Shane 2/7 het vir die manne van Dorpsig met die bal uitgestaan. Indians het die stryd met sewe paaltjies gewen.

Royals vs MU Knights

MU Knights het eerste gekolf en 99/10 gehaal met Cassidy (15) en Norman (15) wat uitgestaan het. Duwayne (4/20) en Faygen (3/28) het vir Royals goed gevaar met die bal.

Royals is almal vir 58 met slegs uitgeboul. Will (23) en Shane (13) het hul kant met die kolf gebring, maar Oliver (3/20) en Norman (2/7) het dit moeilik gemaak vir die manne van Eerstelaan. Die span van Môreson, MU Knights, het die wedstryd met 42 lopies gewen.

Die gemeenskap van Robertson word weer eens uitgenooi na Vaderblad op Sondae waar die jeug hul talente ten toon stel. Die voorsitter, Jupeter Hopp, glo deur middel van sport kan ’n verskil in die gemeenskap gemaak word as die jeug daardie geleentheid gegee word om hulle uit leef en beter rolmodelle het na wie hulle kan opkyk.

Rosku-wedstryde is as volg: Sondae 09:00, 12:00, 15:00.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article