Lt.kol. Laetitia Southey, die nuwe bevelvoerder van Rawsonville se polisiekantoor.Foto:


Kleintyd het sy nooit pop gespeel nie, maar eerder “sake ondersoek” en “verdagtes gevang”. Haar onblusbare passie vir reg en geregtigheid het haar egter tot in haar volwasse jare gevolg – soveel so dat sy vandag aan die hoof van die Rawsonville-polisie staan.

Lt.kol. Laetitia Southey (55), ’n boorling van Rawsonville, het sedert einde April vamjaar tot 3 Desember in die pos as stasiebevelvoerder van die Rawsonville-polisiekantoor waargeneem.

Op 4 Desember vanjaar was dit amptelik – sy is Rawsonville-polisiekantoor se nuwe bevelvoerder.

Die blou bloed vloei behoorlik in die Southeys se are, want Laetitia se pa, wyle Nols – beter bekend as Swartkoppie – het sedert 1968 tot sy aftrede ook in die Rawsonville-polisie gedien.

“Ek kom uit ’n ‘polisie-familie’ en dit [’n beroep in die polisiediens] was nog altyd in my bloed. Om ’n polisievrou te wees, was van kleins af my passie.”

Volgens Laetitia is haar huidige pos ’n bevorderingspos waarvoor sy aansoek gedoen het. Sy is al 35 jaar in die polisiediens.

Sy sê sy het haar loopbaan in die polisiediens in 1989 begin toe sy as administratiewe beampte by die ou Veiligheidstak in Worcester gewerk het.

Volgens Laetitia is sy in 1991 na die polisie se opleidingskollege in Pretoria. Hierna het sy by Rawsonville se polisiekantoor begin werk.

Laetitia sê om met mense te werk en hulle te help, is vir haar baie bevredigend.

Volgens haar behels haar werk nie net om misdadigers in hegtenis te neem nie, maar ook dié van berader vir die publiek.

Volgens Laetitia is misdaad maar altyd ’n uitdaging vir die polisie.

“Misdaad in Rawsonville is nie buite beheer nie. Sou daar egter ernstige situasies opduik, is die nodige hulpbronne wel beskikbaar.

“Werkloosheid is ’n groot uitdaging in Rawsonville en dit dra by tot ’n toename in misdaad. Met die feestyd op hande en meer mense wat ons dorp besoek, is die plan om meer sigbaar te wees.”

Volgens Laetitia is lede van die Rawsonville-polisie baie toegewyd en elkeen dien die dorp met trots.

“Ek gee alle eer aan die Here vir die geleentheid wat Hy my gegee het. Ek wil ook my kinders en vriende vir hul liefde en bystand bedank.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article