Die 12-jarige Geraldo by sy oupa Louis Mpinda. Geraldo het nog nooit in ’n klaskamer gesit nie omdat hy nie ’n geboortesertifikaat het nie.Foto: Dominique Jeftha


Terwyl ander kinders elke oggend vir skool regmaak, het ’n 12-jarige seun van Avianpark nie dié voorreg nie.

Geraldo weet nie hoe die binnekant van ’n klaskamer lyk nie omdat hy nog nooit die geleentheid gehad het om skool toe te gaan nie.

Dit blyk sy geboorte is nooit deur sy ma geregistreer nie, en dit het veroorsaak dat hy nie soos ander kinders grootgeword het nie. Dit is ook waarom Geraldo nie ’n amptelike van het nie.

Louis Mpinda, Geraldo se oupa aan sy vaderskant, veg nou om vir sy kleinseun ’n normale lewe te gee, en ’n kans om skool toe te gaan. Maar hiervoor benodig Geraldo ’n geboortesertifikaat.

Mpinda en sy vrou het Geraldo van kleins af grootgemaak. “Hy is my klein­kind en het van babatyd by ons gebly. My vrou is so ’n paar jaar gelede oorlede en ek het toe alleen na hom gekyk,” sê hy. Mpinda sê dit is sy hartewens om sy kleinkind te sien skoolgaan. 

Volgens hom weet hy nie presies wat die probleem is nie, maar sê sy kleinseun se ma het nooit sy geboorte geregistreer nie.

Volgens wat hy ná ’n ingewikkelde soektog kon uitvind, is dat Geraldo se ma ook sonder dokumentasie is.

Mpinda sê hy het vir Geraldo se ma gesê sy moet haar storie by “Binnelandse Sake gaan vertel” sodat hulle haar kan help en ook haar seun, maar sê Geraldo se ma het nooit weer die moeite gedoen om haar seun te help nie.

“Ek het al ’n maatskaplike werker genader en gevra wat ek kan doen en sy het vir my gesê die ma moet opgespoor word en haar geboorte moet geregistreer word sodat die kind se geboorte opgegee kan word.”

Mpinda sê oor die jare het dit hom baie gepla, want sy kleinseun wou by hom weet wanneer hy ook skool toe kan gaan.

“My vrees is dat hy nou by bendes betrokke gaan raak, want op die oomblik het hy nie regtig ’n toekoms nie, want jy kan niks hier buite doen sonder ’n skool nie,” sê Mpinda. “Ek het destyds vir hulle gevra of sy pa nie die geboorte kan regis­treer nie omdat hy ’n nie ’n identi­teits­­dokument het nie en hulle het gesê sy ma moet dit doen.”

Mpinda sê hy het selfs die kliniek genader vir hulp, maar volgens hom het hulle nooit na hom toe teruggekom nie. Hy sê hy doen sy bes om te verseker dat sy kleinkind nie uit voel nie, maar sê hy kan net soveel doen.

“Hy kan nêrens gaan sonder ’n geboortesertifikaat nie, hy weet nie hoe dit voel om op skooluitstappies saam met skoolmaatjies te gaan nie. Hy ken nie die gevoel van jou eerste dag van skool nie.”

Mpinda sê hy sorg vir sy kleinkind en is dankbaar dat Geraldo nog nooit siek geword het nie.

“Toe my vrou sterf toe is dit nou net ek alleen. Geraldo het ’n pa en ma, maar hulle werk nie en gebruik dwelms. So, hy verkies om by my te wees. Ek is nou sy ma, pa, oupa en ouma.” Mpinda werk nie op die oomblik nie en sê hy is afgelê weens gesondheidsredes.

Belangrikheid van geboortesertifikaat

Volgens die Verenigde Nasies se webtuiste het elke kind die reg op ’n wettige identiteit, maar ’n kwart van kinders wat vandag gebore word, bestaan nie “amptelik” nie.

“Hierdie kinders word ontneem van geboortesertifikate – hul eerste wettige bewys van identiteit – bloot omdat hul ouers dit nie kan bekostig nie, dit nie kan bereik nie, of ’n ander hindernis ondervind om oor registrasiedienste te leer en toegang te verkry. Sonder ’n geboortesertifikaat is kinders onsigbaar vir hul regerings. Dit beteken dat hulle noodsaaklike programme – soos kinderbeskerming, gesondheidsorg en onderwys – kan misloop wat help om hul mees fundamentele regte te verseker”. Standard het Kindersorg gekontak om uit te vind of hulle Mpinda kan help. Mpinda het ’n afspraak vir Donderdag 17 Maart. Standard sal lesers op hoogte hou oor enige verwikkelinge.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article