’n Skermgreep van die video wat wys hoe ’n gevangene pad af in Durbanstraat loop. Foto:


Sondagoggend het Standard Breederivier Gazette ’n video ontvang waarin dit blyk ’n gevangene het uit die Worcester- tronk ontsnap en in Durbanstraat af geloop.

Die video wys hoe ’n man, geklee in gevangene-uitrusting en sonder sokkies in die pad loop. Volgens AO Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder vir die Worcester-polisie, is daar om 08:40 ’n aankondiging gemaak oor die tronk se luidsprekers dat iemand ontsnap het. Volgens inligting is die man glo nog nie gevonnis nie. Dit is onduidelik hoekom hy in die eerste plek ’n gevangene is.

“ ’n Bewaarder het die aankondiging gehoor en het onmiddellik na buite gegaan. Daar het sy die gevangene, ’n Lesotho-burger, gevind. Hy is toe gevang, maar het weer probeer weghardloop. Die bewaarders het hom egter agterna gesit. Hy het homself toe by die kollege oorkant die pad se elektriese omheining geskok en is summier weer in hegtenis geneem,” verduidelik Jacobs.

Dit is onduidelik hoe die man ontsnap het en hoe hy tot buite die gevangenis gekom het voordat iemand hom raakgesien en terug na sy aanhoudingsel vergesel het.

Standard Breederivier Gazette het uitgereik na die Worcester-gevangenis en die volgende terugvoering ontvang van ’n woordvoerder, Singabakho Nxumalo:

“Een gevangene het probeer ontsnap en is gevang deur amptenare wat dadelik gereageer het toe hy probeer weghardloop het. Die amptenare het hom die heeltyd dopgehou, dus was dit nie te moeilik om hom te vang nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article