Met beurtkrag wat al hoe erger word en Suid-Afrikaners se lewe ontwrig, oorweeg al hoe meer huishoudings hul eie kragopwekking.
AfriForum het hierdie nuttige gids oor sonkrag saamgestel:
Twee maniere om sonkrag te benut
Die twee basiese maniere waarop ’n huishouding sonkrag kan benut, is met fotovoltaïese panele wat sonstrale omskakel na ’n elektriese stroom, of met termiese sonwaterverwarmers, wat jou huis se water met die hitte van die son verhit eerder as ’n elektriese element.
Twee maniere om sonkrag te benut: Hoeveel krag kry jy uit sonpanele?
’n Fotovoltaïese sonpaneel van 500 watt (W) in Suid-Afrika, wat behoorlik noord gerig is met geen skaduwee van bome of ander strukture wat daaroor val nie, kan in ’n jaar 821 kilowatt-uur (kWh) se elektrisiteit lewer, of gemiddeld 2,25 kWh per dag, volgens die opstellers van die gids. Dit is teoreties, aangesien die son nie heeldag en aldag skyn nie.
Teoreties kan een paneel teen ’n kragprys van R3 per kWh jou ’n maksimum van R2 460 per jaar spaar.
Die konfigurasies
Net sonkrag: Deur ’n stelsel van net sonpanele en ’n wisselrigter (of omsetter as vertaling van “inverter”) sonder batterye te installeer wat aan die munisipale netwerk gekoppel is, kan ’n huishouding net die elektrisiteit gebruik as die son skyn en oortollige krag kan aan die munisipaliteit gelewer word. Dit help om die kragrekening te verlaag, maar dit help nie gedurende beurtkrag of snags nie. Ook laat nog net Kaapstad en ’n paar ander munisipaliteite tans toe dat sonkragstelsels aan hul netwerk gekoppel word en om krag terug te verkoop.
Sonkrag en batterye: ’n Losstaande stelsel met sonpanele en genoeg batterye kan toesien dat die huis ook snags krag het, maar dan moet daar genoeg sonpanele en groot genoeg batterye wees sodat die batterye genoegsaam herlaai kan word. So ’n stelsel kan baie duur wees en maak slegs sin in afgeleë gebiede wat glad nie aan ’n kragnetwerk gekoppel is nie.
Sonkrag, batterye en Eskom: ’n Hibridiese sonkragstelsel met batterye is tans die sinvolste vir ’n tipiese voorstedelike huishouding wat aan die munisipale netwerk gekoppel is. Gedurende beurtkrag kan die huis krag uit die batterye put en die batterye kan herlaai word met sonkrag of met munisipale krag, of die stelsel kan aangevul word met ’n diesel- of petrol-kragopwekker om die batterye te herlaai en die huis krag te gee wanneer die batterye afgeloop het.
Batterye
LiFePO4-litium-ioonbatterye word aanbeveel omdat dit vir tien jaar gewaarborg word en ’n groter ontlaaivermoë as loodsuurbatterye het.
’n LiFePO4-batterybank met naamplaat-lewering van 5 kWh kos sowat R30 000. Dit kan gerieflik 4 kWh lewer as die batterye daagliks tot 80% van hul kapasiteit lewer en dan herlaai word. Handelsname soos Pylontech, Blue Nova en Freedom Won word aanbeveel as dié met ’n goeie reputasie, lui AfriForum se gids.
Virtuele battery
Die geiser kan goed benut word as ’n virtuele battery deur oortollige elektrisiteit wat bedags deur die sonpanele opgewek word, na die geiser te voer sodat dit nie vermors word nie. Die geiser kan tot hoë temperature verhit word en die warm water kan selfs in ’n tweede geiser gestoor word.
As die twee geisers aan mekaar gekoppel is, kan die huishouding saans warm bad en die volgende oggend nog warm stort – alles danksy die sonkrag van die vorige dag en sonder dat munisipale krag daarvoor gebruik is.
Sonpanele
Sonpanele is beskikbaar tot 600 W per paneel en kos sowat R4 000 per paneel.
Kies panele van betroubare vervaardigers. Die installeerder of stelselverskaffer sal goeie handelsname kan aanbeveel.
’n Huis wat 4 kWh vir vier uur se beurtkrag per dag benodig, behoort reg te kom met 5 kW se sonpanele. Dit sal dan bestaan uit agt tot tien panele.
Dit kan voldoende wees om selfs die swembadpomp, wasmasjien en ’n strykyster in die middel van die dag te laat loop, mits die son skyn. Die beste kragproduksie sal tussen 12:00 en 14:00 wees wanneer die son behoorlik en relatief loodreg op die sonpanele skyn.
Sonpanele word gewoonlik vir 20 jaar gewaarborg, wat impliseer die vervaardigers meen die panele sal vir tot 20 jaar steeds meer as 80% van hul naamplaatwaarde kan produseer.
Wat het ek nodig?
’n Kundige installeerder behoort ’n ontleding van jou huidige kragverbruik-profiel te kan doen en dan aan te beveel hoe groot jou stelsel moet wees in kombinasie van sonpanele, ’n wisselrigter en batterye. Die kragvraag kan ook van die maandelikse kragrekeninge geraam word.
Maar dis nog beter om eers so doeltreffend moontlik met jou kragverbruik te word deur byvoorbeeld na ’n gasoond en ’n songeiser of gasgeiser oor te skakel.
Die minimum vereistes vir huishoudings gedurende beurtkrag is byvoorbeeld die internet, veiligheid, beligting, die TV, motorhuisdeur- en hekmotors en dalk ’n mikrogolfoond, en om ’n selfoon te herlaai, ’n rekenaar te laat werk en die yskas aan die gang te hou. Alles hoef nie gelyk aangeskakel te wees nie, maar die totale kragvraag is gewoonlik nie meer as 1 kW nie. Vir vier uur se beurtkrag per dag beteken dit dus die stelsel moet minstens 4 kWh se krag kan stoor om jou deur te dra wanneer beurtkrag toegepas word. . Die opstellers van AfriForum se gids oor sonkrag is prof. Johan Rens en Neill Human. Die volledige gids, asook ’n lys van geakkrediteerde en gekwalifiseerde installeerders, is op sy webwerf, afriforum.co.za, beskikbaar.
Sal die munisipaliteit my oortollige krag koop?
Kaapstad het pas tariewe bekendgestel wat dit toelaat en al hoe meer munisipaliteite sal waarskynlik die voorbeeld volg.
Maar die prys wat Kaapstad tans aanbied – net meer as R1 per kWh – is maar ’n derde van die sowat R3 per kWh wat jy sou spaar as jy die krag self kon gebruik pleks van om dit by die munisipaliteit te koop.
Die beste is dus om jou stelsel en kragverbruik so te ontwerp en aan te pas dat jy al die krag wat jy self opwek, ook self gebruik. Dit verbeter die opbrengs op jou belegging.
Is dit die moeite werd?
Kragpryse in Suid-Afrika styg met veel meer as die inflasiekoers. As jy eers die kapitaal bestee het, is jy vir minstens 20 jaar verseker van betroubare krag wat jou niks verder kos nie.
Die batterye sal wel dalk ná tien jaar vervang moet word.





