Die 52-jarige Vernon Festus, ’n opgeleide sekerheidswag van Riverview in Worcester, baldans gereeld solo.


Hy het gereeld Facebook-inskrywings gemaak dat hy op soek is na ’n maat in baldans, maar dan geen terugvoer gekry nie.

Die teleurstelling het hom egter nie laat tou opgooi nie, want as niemand dan met hom wil dans nie, dans hy op sy eie. Hy doen dit nou al vir jare.

Dis presies wat die 52-jarige Vernon Festus, ’n opgeleide sekerheidswag van Riverview in Worcester, gedoen het. Hy het op sy eie begin ballroom – sonder ’n maat.

Festus, oorspronklik van die Paarl, het in sy leeftyd aan meer as 100 baldanskompetisies deelgeneem. In elk van dié kompetisies het hy geskitter en altyd die kollig gesteel.

Verlede jaar in Desember het hy eerste geëindig in die National Ballroom Council’s South African Championships wat by Grandwest aangebied is.

Sy solo-ballroom-dansbewegings het so beïndruk dat hy vanjaar vir die vierde agtereenvolgende keer genader is om aan die South African Ballroom and Latin American Championships, wat eerskomende Saterdag (7 Desember) in Belhar plaasvind, deel te neem.

Volgens Festus, ’n pa van twee dogters, het die dansgogga hom op agtjarige ouderdom gebyt toe hy gereeld sy vriende na hul baldansklas in die Paarl vergesel het.

Hy het gehou van wat hy gesien het en besluit om baldans ’n kans te gee. Festus het vir 42 jaar baldans-lesse by die Joanne Ballroom Club in die Paarl geneem.

Hy sê weens sy betrokkenheid by baldans het hy as kind die hele land vol gereis.

Vandag het hy sy eie baldans-skool, Dancing Shoes School of Ballroom Dance, in Worcester. Hy het die skool in 2021 begin en sy dansskool het ten doel om jong mense uit die kwaad te hou.

“Dit bly maar ’n uitdaging om alleen te ballroom, want jy het niemand om vas te hou, te stuur en jou verskeidenheid danspatrone en voetwerk saam met jou te doen nie. Ek moet dit alles doen asof ek saam met iemand dans.”

Volgens Festus het hy tot nou nog geen negatiewe kommentaar oor sy solo-baldans gekry nie.

“Niemand kyk my snaaks aan nie. Mense cheer altyd vir my. Wanneer ek tydens kompetisies alleen tussen ander ballroom-dansers met dansmaats dans, sal mense altyd vir my sê ek dans so mooi en dat ek vir my ’n partner moet kry.”

Festus is baie opgewonde oor Saterdag se kampioenskap. Omdat hy tans werkloos is, benodig hy finansiële hulp vir onder meer sy vervoerkoste.

. Kontak Festus by 062 195 7738 om hom te help om aan die kampioenskap in Belhar deel te neem.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article