Ná sewe jaar se gehak en tak het die eienaar van ’n koffiewinkel in Ceres besluit om die hawelose man wat voor haar winkel bedel, ’n werk te gee.
Adrie Walters en Hendrik het vandat sy sewe jaar gelede haar koffiewinkel in Voortrekkerstraat, Ceres, oopgemaak het, nog nooit werklik oor die weg gekom nie. “Daar was ’n tyd aan die begin wat hy my histeries gehad het. My woede was erg, maar hierdie kom al lank aan,” verduidelik Walters.
Toe sy destyds die koffiewinkel geopen het, het Hendrik pamflette buite haar plek uitgedeel.
“Hy het destyds die ‘Soekertjie’ uitgedeel en so het sy naam ook toe sommer Soekertjie geword. Ons kliënte het gereeld ingekom en gekla oor Soekertjie. Ek en Hendrik het sommer baie geskel. Hoe meer ek vir hom gesê het om nie voor die winkel te staan en bedel nie, hoe meer het hy voor die winkel gestaan en bedel.”
Sy onthou sy het so drie jaar nadat die koffiewinkel geopen is, ook vir hom werk aangebied.
“So drie jaar in het ek hom eendag gevra om rondom die winkel skoon te maak. Hy het dit vir een dag gedoen en nooit weer nie. Ek hom gevra wat aangaan en of hy nie wou werk nie. Hy het gesê hy wou nie werk nie. Ek het twee ander lieflike mense gehad wat daar skoongemaak het – ’n hele ruk. Maar toe word een van hulle siek en kon toe nie meer nie en die ander een wou nie sonder sy maat werk nie. Toe word die omgewing nou nie meer skoongemaak nie.”
Dis toe sy besluit om een laaste keer vir Soekertjie te vra om skoon te maak.
“Ek het hom toe eendag gevra om twee dae ’n week skoon te maak, en hy het ingestem. Die plek was skoon en het beter as ooit skoon gelyk. Hy het toe gereeld kom werk, en eendag het ek besef ek ken nie eens sy regte naam nie, en ek vra hom toe. Hy het sy naam gesê en ons het hand geskud en ek het gesê ek sal mooi na hom omsien.”
Sy meen baie dinge in die lewe gaan oor tydsberekening, en die tydsberekening was voorheen net nie reg vir haar en Hendrik se paadjie saam nie.
“Vandat hy by ons begin werk, lyk hy gesonder en jonger en sterker. Hy het nou ’n sagte plekkie in my hart, veral omdat ek hom deesdae so baie sien glimlag, en dit maak my hart sag.
“Hier by die winkel is ons net vroue; ons het ’n sisterhood, maar hy is nou deel daarvan.”


