September is nasionale Dowebewustheidsmaand, wat daarop gemik is om bewustheid oor die dowe en hardhorende bevolking te verhoog.

Tygerberg Hospitaal (TBH) doen ’n beroep op inwoners om mediese sorg op te soek as hulle gehoorprobleme ervaar, of as hul kind tekens van gehoorprobleme toon.

As hulle skielik hul gehoor verloor, in een of albei ore, moet hulle so gou as moontlik ’n dokter besoek.

Die dokter kan enige probleme ondersoek en hulle moontlik na ’n oudioloog (gehoorspesialis) of ’n oor-, neus- en keelchirurg vir verdere toetse verwys.

Volgens die 2021- Wêreld-gehoorverslag is sowat 12 miljoen Suid-Afrikaners (oftewel 20 persent van die bevolking) hardhorend of doof.

Altesaam 3,6 miljoen benodig behandeling, waarvan minder as 10 persent enige behandeling ontvang.

In 2023 het TBH se oudiologie-departement 7 752 pasiënte bedien (3 298 kinders en 4 454 volwassenes), en 3 376 babas in pasiënte het gehoorsifting vir pasgeborenes ontvang. Personeel het minstens 648 gehoorapparate aangepas (134 vir kinders en 514 vir volwassenes), en 56 mense het kogleêre inplantings ontvang (35 volwassenes en 21 kinders).

Jenny Birkenstock, assistent-direkteur van die departement spraakterapie en oudiologie by TBH, het gesê: “Die verskaffing van akkurate inligting en die verhoging van bewustheid oor gehoorverlies is die eerste stap na bemagtiging en verbeterde toegang tot oor- en gehoordienste vir individue van alle ouderdomme.”

Dr. Matodzi Mukosi, uitvoerende hoof van die Tygerberg-hospitaal, het gesê: “Tygerberg-hospitaal het die eerste kogleêre inplantingseenheid in Suid-Afrika in 1986 ontwikkel. Vir byna 40 jaar was dit ’n vlagskip vir diensuitnemendheid in die bring van hierdie lewensveranderende intervensie aan ons bevolking. Sedert die ontstaan daarvan het meer as 1 000 pasiënte baat gevind by hierdie tegnologie en ongeveer 25 persent van hulle was staatspasiënte.”

’n Kind met gehoorverlies kan ’n verminderde vermoë hê om gesproke taal te ontwikkel, minder opvoedkundige opsies hê, swak akademiese vordering toon en beperkte opsies vir toekomstige werk hê. Gepaste en tydige intervensie vir kinders wat gehoorprobleme ervaar, kan hul opvoedkundige en werksgeleenthede in die toekoms verseker.

“Kinders met gehoorverlies kan leer praat as hul gehoorverlies vroeg geïdentifiseer word, hulle gepaste gehoortegnologie (gehoorapparate of kogleêre inplantings) ontvang en hulle inskakel by vroeë-intervensie-dienste wat luister- en gesproke taalontwikkeling bevorder.

’n Volwassene met gehoorverlies kan sukkel met kommunikasie, frustrasie, verlies aan selfvertroue en selfbeeld, sosiale isolasie, depressie, beperkte werksgeleenthede en verminderde vermoë om in die werksplek te vorder.

Oudioloë by die hospitaal deel die volgende wenke om doeltreffend te kommunikeer met iemand wat gehoorprobleme het:
. Praat stadig teen ’n normale volume. Moenie skree nie.. Kry die persoon se visuele aandag voordat jy begin praat.. Maak seker dat jou mond en gesig duidelik sigbaar is.. Beweeg nader aan die luisteraar.. Herformuleer eerder as om gemiste woorde te herhaal.. Gee ’n leidraad aan die luisteraar wanneer die onderwerp verander.. Beweeg weg van agtergrondgeraas of skakel dit af.. Moedig die luisteraar aan om jou te laat weet as hy of sy nie verstaan nie.

Hoe om ondersteuning te kry

’n Primêre gesondheidsorgfasiliteit (jou plaaslike kliniek) kan kinders en volwassenes na die naaste spraakterapeut of oudioloog verwys vir sorg.

Vroeë identifikasie van gehoor- of spraakprobleme by babas en kinders is belangrik, en verwysing na ’n oudioloog of spraakterapeut moet nie uitgestel word nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article