Die nuwe aanbieder van Koortjies, Elwira Standili. Foto: Willem Botha


Verlede week is aangekondig Worcester se Elwira Standili sal die nuwe aanbieder van die gewilde televisieprogram Koortjies wees.

Standili het in 2015 vir haarself naam gemaak toe sy ’n deelnemer aan die gewilde sangkompetisie Idols was. In 2015 het sy nog nie voltyds gospel gesing nie en het eers in 2020 hierdie verandering in haar loopbaan aangebring.

“Ek het in die kerk grootgeword. En gospel is waar my hart nog altyd was. Toe ek tydens covid kom rustig raak het, het ek toe tyd gehad om te dink. Dis toe ek besluit het om my hart te volg en ook om myself aan die Here te recommit. En nou pluk ek die vrugte.”

Sy het so ’n maand of wat gelede die oproep gekry wat haar nou op hierdie nuwe paadjie gesit het.

“Ek het eers ’n boodskap ontvang van die show se vervaardiger en hy het my gevra om hom te laat weet wanneer hy my kan bel. Ek het toe nie veel aandag gegee nie, maar wel my pa daarvan vertel. Toe ek later op pad uit was, het my pa my herinner om hom te bel, maar steeds het ek nie aandag gegee nie en weggery van die huis af. ’n Ent van die huis af besluit ek toe om af te trek en sê vir hom hy kan maar gou bel, en dis toe hy my vra.”

Sy bieg ook sy kon aan die trant van die gesels hoor wat kom.

“Ek kon voel aan die conversation wat op pad is. Ek was toe net oorweldig met ongeloof. Ek het hard probeer om kalm te bly.”

Hoewel sy gevra is om die nuus stil te hou, het sy onmiddellik haar ouers vertel.

Sy erken ook dat die werklikheid nog nie heeltemal ingesink het nie.

“Ek dink ek gaan nog so vir ’n maand oorweldig voel. Ek was nou nog ook nie weer by die huis vandat die nuus bekend gemaak is nie, so ek sien uit daarna om huis toe te gaan. Ek het Sondag uiteindelik tyd gemaak om rustig deur al die sosialemedia-boodskappe te lees, maar steeds het dit nog nie ingesink nie.”

Standili beplan ook om haar nuwe platform te gebruik om in haar gemeenskap terug te ploeg.

“Ek en my suster en ’n vriend van my is besig om ’n projek te beplan wat die jongmense van die vallei se lewe gaan verryk. Verdere detail sal ek mettertyd op my sosialemedia-platforms deel.”

. Die eerste episode van Koortjies met sy nuwe aanbieder sal Sondag 14 Julie op kykNET & Kie, kanaal 145 op DStv, uitgesaai word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article