Zane Rustoff sê hy is lewende getuienis dat ’n mens kan verander. Foto: Enrico Classen


Hy was skaars 15 jaar oud, toe is hy reeds ’n bendeleier in Worcester.

Sonder skaamte het hy helder oordag met ’n vuurwapen in die hand op en af in die lane gehardloop en mense se jong seuns in hul ouerhuise geïntimideer om lid van sy bende te word.

Later het hy – omdat hy nie onder gesag wou staan nie – saam met nog ander byna ’n verbeteringskool in Clanwilliam afgebrand.

Ná ’n skrikbewind van sowat 15 jaar het hy begin moeg word vir die bendelewe en gesmag na ’n normale lewe . . . ’n gesinslewe met sy [destydse] vriendin en hul drie seuns, wat uiteindelik ’n werklikheid geword het.

Zane Rustoff (32) van Worcester sê in ’n openhartige onderhoud aan Standard sy ouers is geskei toe hy 10 jaar oud was. In daardie stadium het hulle in Riverview-woonstelle gewoon.

Hy sê omdat hy nie onder gesag wou staan nie, het hy op 13-jarige ouderdom by sy pa en ouma in Hartwiglaan ingetrek. “Daar was niks reëls in die huis nie.” Toe hy 14 was, het hy skool gelos, op straathoeke begin rondhang en later sigarette en dagga begin rook. “Ek het begin sake vang omdat ons begin steel het om ons dwelmgewoontes te onderhou.”

Hy sê omdat sy pa en ouma geen beheer oor hom gehad het nie, het die hof gelas dat hy na ’n verbeteringskool in Clanwilliam gestuur word. Hy en ander seuns het – op die dag toe hy 15 jaar oud word – byna die hele skool in vlamme laat opgaan toe hulle matrasse aan die brand gesteek het.

Ná die brand is hy na Bonnytoun in Wynberg gepos. Kort hierna het hy by ’n bende betrokke geraak. Volgens hom is die sake teen hom intussen teruggetrek. Hy het sy eerste tatoeëermerk op 15 gekry.

Rustoff sê ná bietjie meer as ’n jaar het hy by ’n dwelmpos gaan woon waar hy met tik en dagga begin smokkel het. “Ek was 15 toe tik ek en rook buttons. Later het ek ecstasy en mandrax gerook.”

Volgens Rustoff het hy begin opdragte gee dat mense beroof word. “Ek het begin skelmer raak in my gedagtes. My taalgebruik was nie wat dit moes wees nie. Ek was nou geheel en al ’n skollie. Ek het destyds al geglo ek moet ’n leier wees.”

Hy het as tienerseun in kringe begin sit waar groot aanvalle op mense beplan word. Op 17 is hy tronk toe vir sy dade. Hy sê die sake is ná ’n gesloer van drie jaar laat vaar.

Rustoff vertel van ’n voorval toe sowat 30 lede van ’n ander bende hom en drie van sy makkers met pangas aangeval het.

“Ek kon darem wegkom. Daar was so baie voorvalle waar ek moes gesterf het, maar iemand of iets het my daarteen beskerm.”

Ná sowat 15 jaar in die bendelewe, sê hy, het hy begin afsydig raak teenoor sy mede-bendelede. “Ek wou stelselmatig uit die bende onttrek. Dit was toe ek gesien het hoe ’n jong man van my ouderdom normaal werk toe gaan en normaal met sy meisie dorp toe loop.

“Ek was toe so 27, 28 jaar oud. Ek het ’n begeerte gehad om ook normaal te wees. Ek het toe besluit om my lewe te verander. Ek was brandmaer.”

Hy sê hy was 29 jaar oud toe hy op ’n Maandag laatmiddag besluit het om by Change Makers om hulp te gaan aanklop. Hy was geklee in ’n frokkie en was oortrek met tattoeëermerke.

Volgens Rustoff het hy begin met ’n buiteprogram waar met geharde misdadigers gewerk word. Ná sowat ’n maand in 2021 het hy met sy rehabilitasieprogram by Change Makers begin. “Toe ek by Change Makers kom, het ek ordentlik Afrikaans begin praat. Ná twee maande in die program het ek myself bekeer. Toe ek agterkom ek raak nou human, het ek jong mans begin bemoedig.”

Rustoff sê nadat hy sy program by Change Makers voltooi het, het hy met sy meisie, die ma van sy kinders, getrou. Kort hierna het hy ’n vaste werk gekry.

Volgens Rustoff het hy nooit voorheen in sy lewe gewerk nie. “Elke dag bewys die Here sy guns aan my.”

Benewens Change Makers is Rustoff ook betrokke by ’n tronkbediening.

“Ek is lewende getuienis dat daar hoop is; dat jy kan verander. Ek kan nou oral in Worcester loop waar ek dit nooit kon waag nie.”

Volgens Rustoff het hy meer as 150 tatoeëermerke. Hy sê nie eens dit sit hom terug nie, want wanneer hy na homself in die spieël kyk, sien hy ’n nuwe mens.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article