Foto ter illustrasie.Foto: Pexels


Elke sakeonderneming of instansie se werwingsprosesse werk anders, en party is strenger as ander.

Nietemin is dit ’n proses wat almal minstens een keer gaan ervaar wanneer hulle die arbeidsmag betree.

Munisipaliteite se werwingsprosesse werk ook anders omdat dit ’n staatsentiteit is.

Hiérdie liggame moet byvoorbeeld vir ’n sekere tydperk poste in die koerant bekend maak, en eers dan kan ’n lys name opgestel word.

Standard het uitgereik na die Breederivier-munisipaliteit (BVM), wat verduidelik het presies hoe hul werwingsproses verloop.

Volgens Hannelie Botha, woordvoerder van die BVM, werk dit soos volg:
. ’n Advertensie word in die koerant, op kennisgewingborde, die munisipaliteit se webwerf asook hul sosialemediaplatforms geplaas. . ’n Lys moontlike kandidate word dan opgestel, en daarna ’n kortlys.. Agtergrondkontrolering vind hierna plaas, waar van die kandidate op die kortlys vereis word om ’n toestemmingsvorm in te vul wat die munisipaliteit toelaat om inligting en verwysings van hul huidige en vorige werkgewers aan te vra.

Tydens hierdie stap word die kandidaat se kwalifikasies ook geverifieer om seker te maak dat hierdie dokumente nie dalk vervals is nie.. Hierna word onderhoude en in sommige gevalle, toetse, geskeduleer om die kandidaat se bevoegdheid vir die pos te bepaal.

Hoe verseker die BVM immers dat kwalifikasies en verwysings oorspronklik is en dat hy nie in ’n slaggat trap soos verskeie ander staatsentiteite waar dit aan die lig gekom het dat werknemers se kwalifikasies vervals was nie?

Volgens Botha word dié stap afgehandel tydens die agtergrondkontrolering wanneer die munisipaliteit na die ondernemings of maatskappye uitreik wat die aansoeker voorheen in diens geneem het en as verwysings aangehaal word.

Daarbenewens word die kwalifikasies ook deur ’n diensverskaffer geverifieer.

DP Lubbe, die Langeberg-munisipaliteit se munisipale bestuurder, het per e-pos aan die koerant verduidelik dat so ’n diensverskaffer waarvan dié munisipaliteit gebruik maak insluit “MIE Background Screening”, wat die aansoeker se vingerafdrukke neem.

Hierdie ondersoek sal dan vasstel of die aansoeker ’n misdaadrekord het en of sy/haar kwalifikasies wettig is.

Volgens Lubbe volg die munisipaliteit die werwingsproses wat op 1 Julie 2022 deur die staat voorgeskryf is, en wat die proses soos hier bo verduidelik, uiteensit.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article