Het jy al die staaltjie gehoor oor hoe Koos van der Merwe die bynaam Koos Koning gekry het?

Gun my tog die geleentheid om nog een hoofstuk by te voeg oor al die stories van Koningin Elizabeth en haar besoek aan ons kontrei in 1947.

Koningin Elizabeth, destyds nog die 20-jarige prinses Elizabeth, haar suster Margaret en hul ouers, Koning George VI en sy vrou, Koningin Elizabeth, het op 17 Februarie 1947 met ’n skip, die HMS Vanguard, in Kaapstad aangekom. Van daar het hulle op ’n trein deur Suid-Afrika gereis. Die trein het op 21 Februarie uit Kaapstad vertrek en oornag op ’n syspoor op die plaas Goedgeloof naby Breërivierstasie gestaan. Die eienaar van die plaas, mnr. Albertus van der Merwe, ook bekend as Bert, en sy vrou, Maryna, het die koning en sy gevolg hartlik ontvang.

Hul kinders – Andries, Jakob (wat aan die Universiteit Stellenbosch gestudeer het) en Jakob se tweelingsuster, Johanna, ook ’n student, het vir die naweek huis toe gekom om die groot gebeurtenis by te woon. Oom Bert en tannie Maryna het eers ’n lang ruk in die sitkamer op die trein met koning George gesels. Daarna het oom Bert die koning en sy gevolg op ’n toer van die plaas en ook die wynkelder geneem. Hier kon hulle ervaar hoe ’n glas mos behoort te smaak.

Koningin Elizabeth wou weet of sy die hele glas kan drink. Oom Bert het haar verseker dat een glas heel veilig is, maar hy sou haar nie aanraai om ’n tweede een te neem nie.

Terug by die huis het tannie Maryna die gaste met boerebeskuit en koffie onthaal. Die trein het Breërivier-stasie die oggend van 22 Februarie verlaat en om 10:00 by Worcester-stasie aangekom.

Van daar is die trein na die Robertson-stasie. Oorkant die perron is 21 palmbome geplant vir prinses Elizabeth se 21ste verjaarsdag op 21 April. Vandag staan nog 15 van dié palmbome daar, wat duidelik van Voortrekkerweg af sigbaar is wanneer ’n mens deur die dorp ry.

En die bynaam? Toe Koos die Sondagaand by Huis Marais aankom, het ’n student hom luidkeels uit ’n kamervenster verwelkom met die woorde “Haai, Koos Koning, het jy toe aan die koning se hand gevat?”

Met die trein se terugtog deur die Breedevallei in April 1947 het hulle weer by die Breërivier-stasie oornag. Oom Bert en tannie Maryna is deur die koning na die trein genooi, waar oom Bert ’n foto van die koningsgesin, deur hulle onderteken, ontvang het.

Hierna het die SAUK ’n opname gemaak van oom Bert se indrukke van die koningsgesin. Hy kon nie genoeg praat van die hartlikheid en menslikheid van die koning en koningin nie. Die berig oor die bynaam het op 24 April 1968 in Die Burger verskyn onder die opskrif “Hoe Koos van der Merwe Koos Koning geword het.”

Die voormalige mede-eienaar van Worcester Standard en oudbestuurder van Die Burger, Jean le Roux, het my daarvan vertel. Ek het ook inligting uit die berig in Die Burger se argiewe en op Standard se Netwerk24-blad gekry.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article