Beeste en ander vee kan dikwels gesien word wat reg langs hoofpaaie, in en om Langeberg, rondloop en wei, wat ’n geweldige gevaar vir padgebruikers inhou. Dit het ’n debat ontketen wat almal nou laat raai – wie is verantwoordelik vir rondloperdiere?
Die Wes-Kaapse departement van plaaslike regering het besluit om ’n verordening oor hierdie onderwerp te skep. ’n Komplikasie met die implementering van die verordening en die uitspraak van die Konstitusionele Hof is die feit dat die meeste rondloperdiere nie gebrandmerk is nie. Dit maak dit moeilik om die eienaar/s te identifiseer en behoorlik kennis te gee soos in die verordening in die vooruitsig gestel.
Die landbouwet vereis dat diere gebrandmerk moet word. Die toepassing van hierdie wetgewing is noodsaaklik in die bestuur van rondloperdiere. Dit is met hierdie bepalings in gedagte dat die munisipaliteit volhou dat die bestuur van rondloperdiere ’n ingewikkelde saak is en volle samewerking van die ander regeringsfere vereis.
Volgens die Langeberg-munisipaliteit se pond-verordening, hoofstuk 3, geld die volgende wanneer beslaglegging op diere vir skut oorweeg word:. ’n Verlore, verlate, verdwaalde of oortredende dier, of ’n dier wat nie onder behoorlike beheer deur sy eienaar gehou word nie, en wat in ’n openbare plek of op private grond gevind word, kan op beslag gelê en by ’n skut afgelewer word.. In die geval van ’n dier wat in ’n openbare plek gevind word, mag die volgende mense op die dier beslag lê: lid van die polisie; lid van die weermag; wetstoepasser of die provinsiale departement verantwoordelik vir padverkeersake; ’n gemagtigde amptenaar van die munisipaliteit; ’n skut-bestuurder; ’n werknemer van enige Vereniging vir die Voorkoming van Dieremishandeling wat in die provinsie geleë is; of enige ander mens wat van tyd tot tyd deur die munisipaliteit bepaal word.
In die geval van ’n dier wat op private grond gevind word, kan die dier deur die eienaar of okkupeerder van daardie grond op beslag gelê word. Alternatiewelik kan een van die gemagtigde beamptes ook op die dier beslag lê.
Die persoon wat op die dier beslag lê, moet dit by die naaste toeganklike skut aflewer, met die kortste praktiese roete en binne die kortste praktiese tyd. Die eienaar van die dier sal aanspreeklik gehou word vir koste wat deur belastingbetalers aangegaan word.
Die eienaar sal egter sewe dae gegun word om daardie fooie en redelike uitgawes te betwis. ’n Skutwagter moet die eienaar binne sewe dae ná die skut van ’n dier in kennis stel.
’n Verklaring moet ook deur die skut-bestuur aan die eienaar uitgereik word wat verklaar dat hy of sy sewe dae het, bereken van ’n datum wat in die kennisgewing gestipuleer word, om daardie fooie en redelike uitgawes te betwis. Indien die eienaar nie die fooie en redelike uitgawes betwis nie, maar versuim om teen die gegewe datum te betaal, sal die skuthouer dan by ’n landdroshof aansoek doen om ’n bevel wat hom of haar (skuthouer) magtig om die dier te verkoop.
Die Langeberg-munisipaliteit het tans nie ’n skut nie en maak gebruik van die skut in Swellendam. Die munisipaliteit het egter by die Wes-Kaapse regering aansoek gedoen om finansiering vir ’n eie skut.
Rondloperdiere kan 24 uur perdag by die inbelsentrum aangemeld word:. Skakel: 0860 88 1111 / 023 615 2219. WhatsApp: 065 211 7822. E-pos: info@langeberg.gov.za. Stuur ’n boodskap op Facebook, Twitter of Instagram in kantoorure.
?


