Die reuk van goeie koffie is vir ’n groep Worcesteriete sinoniem met die reuk van ’n droom wat waar word.

Die barista Arthur Breedt maak behendig ’n koppie koffie wat hy met melkskuim afrond. Hy vertel dat hy jare gelede ’n perkoleerder present gekry het en dit was die begin van ’n droom om eendag sy eie koffiewinkel te hê. Arthur is betrokke by Innovation for the Blind en is siggestremd.

“Ek was so opgewonde toe ek die barista-kursus kon doen. Aan die begin was ek maar skrikkerig dat ek my met die koffiemasjien sou brand, maar ons het mooi geleer. Hierdie is vir my ’n begin sodat ek eendag my eie winkel kan oop- maak.”

Die Refresh Wellness and Barista Bar het sy deure verlede Woensdag 19 Februarie in Kerkstraat amptelik geopen. Die mooi ou gebou bied ’n lieflike ruimte vir ’n koffiewinkel. Benewens die koffie staan die groep siggestremde masseurs reg om die spanning uit gestresde lywe te masseer.

Een van die masseurs, Johan Louw, vertel toe hy ’n kind was, het sy ma geleer hoe om masserings te doen en op hom geoefen. “Ek wou dit nog altyd ook kon doen en was so bly toe ek kon leer. Al voel dit soms of ’n mens se droom nooit gaan waar word nie, moet ’n mens net aanhou droom. Kyk watter goeie geleentheid het ek uiteindelik gekry!”

Die Refresh Wellness and Barista Bar is ’n inisiatief van Innovation for the Blind om geleenthede vir siggestremdes te skep.

“Hierdie koffiewinkel is meer as net ’n koppie koffie of ’n massering. Dit gaan daaroor om ’n veilige omgewing en geleenthede te skep en in mense te glo,” vertel Stephné Both, wat aan die stuur van Refresh staan. “Ons was baie gelukkig met skenkers wat ingekoop het in ons droom en dit help bewaarheid het. Die koffiewinkel word deur siggestremdes bestuur met net enkele siende personeel wat hulle bystaan. “Ons wil die siggestremdes nie net insluit nie, maar hulle die kans gee om by te dra en te floreer,” het Botha gesê.

Refresh se deure is oop van 07:00 (net betyds vir ’n oggendkoffie!) tot 16:00. Op Saterdae is die winkel oop van 07:30 tot 13:00.

“Ek wil graag mense se lewe beter maak,” sê Arthur. “Koffie is ’n goeie manier om dit te doen. Dit word mos nie verniet boeretroos genoem nie!”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article