Hy was maar 14 jaar oud toe hy die eerste keer begin dagga rook het.
Nadat hy op 15-jarige ouderdom by ’n bende aangesluit het, het tik en Mandrax later gevolg.
Die keerpunt in sy lewe het egter gekom die dag toe sy tweejarige seuntjie langs hom op die bed sit en vir hom sê hy is honger.
Daardie woorde het Branden Booysen (31) van Esselenpark in Worcester só diep geraak dat hy besluit het om hulp vir sy dwelmprobleem en roekelose leefstyl te gaan soek.
Change Makers in Worcester het hom gehelp om sy lewe weer op koers te kry en vandag is hy ’n baken van hoop vir jong mans wat in die greep van dwelms en bendeverwante aktiwiteite vasgevang is.
Change Makers is ’n bediening wat jong mans help om uit die greep van bendes en dwelms te kom sodat hulle heelheid en vervulling in die lewe kan vind.
Booysen (31) sê in ’n openhartige onderhoud aan Standard Breederivier Gazette dat hy sonder ’n pa in ’n onstabiele huishouding grootgeword het.
“Ek is op laerskool geboelie. Ek kon niemand by die huis vertel van dit waardeur ek op skool gaan nie en moes alles inhou. Ek het nie geweet hoe om daarmee te deal nie. Dit was glad nie lekker by die huis nie.
“Ek was 15 jaar oud toe ek by ’n bende betrokke geraak het. Daardie was my familie. Vir my het dit gevoel ek hoort tussen hulle, want hulle het my verstaan, na my omgesien en my verdedig wanneer ek in die moeilikheid was.
“Ek het al daardie opgekropte woede waarmee ek geloop het, buite express deur middel van geweld en dwelmmisbruik.”
Booysen sê sy bende-betrokkenheid het hom later genoop om skool – vir sy eie veiligheid – op die 15-jarige ouderdom te verlaat, want daar was ander bendes by dieselfde skool.
Hy sê elke dag was daar ’n bakleiery op skool.
“Tussen 2009 en 2013 was my lewe deurmekaar. Ek het myself heeltemal verloor. Ek was baie aktief in die bende.
“Ek het mense beroof en seergemaak.
“Ek het uiteindelik ’n manier gevind om al my woede en verwerping buite te express.
“Dit het my baie wreed gemaak. Ek was roekeloos.”
Hy vertel sy lewe het ’n verdere knou gekry toe sy vriendin, saam met wie hy ’n seuntjie het, hom in 2014 toe hy (Booysen) so 22 jaar oud was, uit die huis geskop het weens sy betrokkenheid by bendes en omdat hy haar lewe hel gemaak het.
Volgens Booysen het hy op ’n dag in Mei 2015 op sy bed in sy ouerhuis gelê. Sy tweejarige seuntjie het langs hom op die bed gesit.
“Toe hy vir my sê ‘daddy, ek is honger’, het ek hartseer gevoel vir hom. Ek het gevoel ek is nie ’n goeie pa vir hom nie en dat ek hom teleurgestel het.
“Ek sê toe vir myself ‘dit stop vandag’. Daai dag toe loop ek deur Riverview – waar ek as gevolg van my bende-betrokkenheid nooit voorheen geloop het nie – reguit Toevlug toe.”
Hy sê in 2016 was hy deel van ’n program wat deur die Change Makers aangebied is. In Augustus daardie jaar het hy sy hart vir die Here gegee.
“Die Change Makers het my gehelp met my dwelm- en ander persoonlike probleme.”
Booysen sê toe hy die program ná ses maande voltooi het, het hy vir die Change Makers begin werk. Deesdae gee hy onder meer leiding aan jong mans wat uit die greep van bendes en dwelms wil kom.
“Die Change Makers het my geleer om verantwoordelikheid te aanvaar. “Hulle het my geleer hoe om my man te staan – sonder geweld.”
Volgens Booysen het hy in 2023 in die huwelik getree. Hy sê sy vrou het hom baie tydens sy helingsproses gehelp. Hy het ook by haar geleer hoe om weer lief te hê.
“Ek sien hoe die Here elke dag vir my deurkom. Ek is gelukkig, standvastig en het ’n goeie verhouding met die Here. Ek het weer hoop.”
Sy raad aan jong mans, wat in die greep van bendes en dwelms vasgevang is, is: “Neem die Here in jou lewe aan. Dit is hoe ek dit reggekry het en daar is altyd mense wat bereid is om te help.”




