| Nasionaal | Provinsiaal | |||
| Breedevallei | 2024 | 2019 | 2024 | 2019 |
| DA | 21 667 | 24 661 | 21 876 | 25 841 |
| ANC | 9 872 | 16 314 | 9 432 | 15 336 |
| PA | 7 445 | N/A | 7 686 | N/A |
| EFF | 1 615 | 1603 | 1 535 | 1 503 |
| VF+ | 1 305 | 2065 | 1 170 | 1 148 |
| Langeberg | Nasionaal | Provinsiaal | ||
| DA | 12 413 | 12 869 | 12 613 | 13 520 |
| ANC | 5 130 | 7 916 | 5 022 | 7 344 |
| PA | 3 532 | N/A | 3738 | N/A |
| VF+ | 970 | 1 167 | 564 | 615 |
| EFF | 589 | 840 | 915 | 819 |
Die stemme is getel en die nasie het gestem. En dit is geen geheim nie dat die regerende party van die afgelope drie dekades bloedneus geslaan is.
In die Breederivier- en Langebergvallei is die sentiment ook duidelik met die ANC se steun wat hier erg gedaal het. Daar is wel ’n effense daling in die meeste van die top- politieke partye en ’n kenmerkende tendens is die hoeveelheid stemme wat die nuweling, die PA, in die valleie ontvang het.
Die BVM-burgemeester, Antoinette Steyn, het haar tevredenheid met die proses uitgespreek.
“Ek is baie dankbaar vir elke mens wat op 29 Mei in die Breedevallei kom stem het. Dit was baie belangrik vir ons streek, provinsie en natuurlik die land.
“Die volgende twee weke moet nog heelwat gebeur voordat ons sal weet hoe die pad gaan lyk wat vir ons voorlê.
“Nou moet ons fokus op die toekoms van ons dorpe en gereed maak vir 2026 se plaaslike verkiesings, wat nog meer druk gaan wees.”
Die Langeberg-munisipaliteit se burgemeester, Schalk van Eeden, het ook sy dank oorgedra aan die duisende kiesers in die Langeberg wat hul stemme uitgebring het.
“Stem is ’n fundamentele manier vir burgers om inspraak te hê in sake van bestuur .
“Hierdie jaar was die sewende demokratiese verkiesing, wat saamgeval het met 30 jaar van vryheid en demokrasie in ons land. Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) van Suid-Afrika het berig dat die Langeberg- munisipale gebied meer as 45 975 geregistreerde kiesers vir die 2024-verkiesing gehad het. Hiervan het ’n noemenswaardige 24 626 deelgeneem, wat ’n stempersentasie van ongeveer 53% tot gevolg gehad het.
“Oor die algemeen het die dag goed verloop, ten spyte van die haakplek wat ondervind is met die skandeertoestelle by sommige stasies, wat gelei het tot lang rye en mense wat moes wag. Dankie vir jou geduld. Ek wil ook die Langeberg-OVK-personeel bedank wat die stemproses in ons gebied met toewyding en doeltreffendheid gekoördineer en toesig gehou het. Danksy hul toewyding is ons inwoners verseker van ’n vrye en regverdige verkiesing.”





