Die span van Pumas wat teen Zazon gewen het. Pumas se volgende wedstryd is Sondag (1 Desember) teen Black Leopards op Dynamopark in Roodewal.


In ’n snaakse wending verlede Sondag het Quickies-krieketklub se senior span met slegs vyf spelers teen View Pros opgedaag, wat pasella punte vir die manne van Riverview beteken het. Quickies het ook baie laat (14:30) vir hul wedstryd opgedaag, wat reeds om 13:30 moes begin het.

Volgens reël 1 van die toernooireëls begin wedstryde stiptelik volgens die tyd op die rooster. Die skeidsregters wat al ’n uur daar was, het die wedstryd aan View Pros toegeken omdat reël 13 lui dat sewe spelers ’n wedstryd kan begin, ook nie nagekom is nie.

Quickies en View Pros het toe ’n vriendskaplike wedstryd voortgesit, waar van View Pros se orige spelers aan Quickies “geleen” is.

In nog ’n wending het View Giants teen Pro Eagles met ’n ongeregistreerde speler, wat nie op hul registrasielys verskyn nie, gespeel.

Giants het die wedstryd gewen, maar kan streng optrede deur die bestuur van die vlakkiekrieketvereniging weens dié oortreding verwag.

Intussen het Pumas in groep A verras deur Zazon op Ryderpark te klop terwyl Clovers hard moes werk om Lions op Greenvalley baas te raak.

Lions het eerste gekolf en 80 lopies aan Clovers vir ’n oorwinning gebied. Mario Marinus en Luzario het ’n 80-lopie-vennootskap opgestel, waarvan Marinus 67 en Luzario 13 aangeteken het, om Clovers uiteindelik met 10 paaltjies te laat wen.

In groep B het Rising Stars verspot maklik met Very Dangerous afgereken en met 123 lopies gewen terwyl Young Stars hul eerste oorwinning teen Young Titans behaal het.

In Sondag se A-groep speel Clovers teen View Pro op Eaglepark, Quickies speel teen Hartwig Lions op Edengarden, terwyl Black Leopards teen Pumas op Dynamopark kragte meet.

Ronde 5 in Groep B behels View Giants teen Young Titans; Young Stars teen Pro Eagles op Nuweland en Orchard teen Rising Stars op Ryderpark.

Die wedstryde begin om 13:30 en vlakkiekrieket-geesdriftiges kan uitsien na aksiebelaaide krieket.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article