Een van die dorp se bekendste smouse en ’n ware allemansvriend, die 65-jarige Leonard (Lando) Jacobs, is verlede week ná ’n skielike terugslag en gepaardgaande kort siekte oorlede.
Volgens Delvin du Plessis, ’n jare lange vriend en skoolmaat, was Lando ’n Worcesteriet in murg en been en het die doen en late van sy dorp se mense hom baie na aan die hart gelê. Hy was ’n produk van die bekende NGK Oefenskool waar hy onder andere klasmaats met wyle dr. Kevin Smith, die tandarts, en die bekende akademikus dr. Danny Titus, was.
Hy was ’n uithalersportman en het veral op skool as naelloper en rugbyspeler uitgeblink en het as laerskoolleerder Boland-kleure in albei sportkodes verwerf.
Hy het hom later by Young Hamiltons-rugbyklub aangesluit en behalwe dat hy sy merk as rugbyspeler gemaak het, het hy ook jaarliks ruim bygedra om sy geliefde klub se ratte te help draai – tekenend van sy toewyding aan die klub.
Lando was as allemansvriend in die 1980’s saam met die bekende maatskaplike werker Erina van Deventer, die aktivis Juan Kariem, sy oorlede moeder asook Thomas van Noie, deurslaggewend om die bedrywighede van veral die bendes van daardie tyd – die Scorpions en BFK’S – te stop.
Hy het met sy oorredingsvermoë menige bendelid destyds oorreed om by sport betrokke te raak en op daardie manier van oortollige energie ontslae te raak.
Sy ander groot liefde was Kersfeeskore en kompetisies en hy was ’n gereelde gesig by elke kompetisie in die dorp of streek.
Hy kon ook met soveel genoegdoening vertel van kompetisies en wie of watter koor in watter jaar die botoon gevoer het.
Lando het ’n hele paar jaar by Rainbow Chickens gewerk voordat hy later ’n stalletjie reg voor Shoprite in Stockenströmstraat opgerig het.
Hier het hy met sy innemende persoonlikheid oor die jare ’n groot vriendekring opgebou. Onder sy gereelde kliënte was dokters, prokureurs, uniformdraers, opvoeders en sommer net gewone werkers.
Hy was ook lief om sy klante se stambome uit te lê – dikwels heel van koers af. Hy het egter ’n besonderse manier gehad om inligting uit jou te trek wat hy later, met sy besonderse goeie geheue, teen jou gebruik het. Hy was ook trots daarop dat hy jou altyd kon herinner aan waar geboue wat lankal gesloop is, eers was.V ’n Roudiens word vanaand (Donderdag) om 19:00 by sy huis by Van Huyssteenlaan 78 gehou. Begrafnisreëlings was met die ter perse gaan nog nie afgehandel nie.




