Die Smalblaarrivier by Rawsonville is hier in volle vloed tydens die kwaai reën van twee weke gelede.Foto: Verskaf


Alternatiewe behuising in Avianpark in Worcester word gesien as korttermyn-oplossing vir inwoners van informele nedersettings in Rawsonville wat vroeër die maand deurgeloop het onder swaar reën- en windstorms en toe die Smalblaarrivier sy walle oorstroom het.

So het die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) die week gereageer ná noodkrete deur inwoners van die Spokiesdorp-, Geelkampies-, Riverbank-en Nakatabos-informele nedersettings wat vra dat die walle van die Smalblaarrivier opgestoot of alternatiewe behuising aan geaffekteerde inwoners beskikbaar gestel word.

Chad Malgas, woordvoerder van die BVM, sê die munisipaliteit is in die proses om onmiddellike alternatiewe met die geaffekteerde gemeenskap te bespreek.

Hy sê die proses met betrekking tot die Avianpark-behuising sal egter gelei word deur breedvoerige openbare deelnameprosesse.

Ali Sablay, van Gift of the Givers, het vroeër aan Standard gesê altesame 1 280 inwoners en 300 informele wonings deur die swaar weer geraak is.

Malgas het voorts gesê die BVMis tans ook in die proses om alternatiewe grond vir behuisingsdoeleindes in Rawsonville te identifiseer.

Hy sê dit is egter belangrik om te let dat beskikbare grond vir hierdie doeleindes redelik beperk is in Rawsonville.

Volgens hom word positiewe vordering egter in dié verband gemaak, aangesien die wesenlikheid van twee moontlike liggings tans oorweeg word.

Hy sê sodra ’n geskikte ligging geïdentifiseer en suksesvol bekom word, moet ’n formele proses rakende die registrasie en implementering van ’n behuisingsprojek volg.

Volgens Malgas is hierdie dus ’n medium- tot langtermynprojek.

Met betrekking tot die opstoot van die walle van die Smalblaarrivier, sê Malgas omgewingswetgewing verbied dat in rivier- of waterlope gewerk word, mits goedkeuring vooraf verskaf word deur die provinsiale departement van omgewingsake, ingevolge ’n formele aansoekproses.

Hy sê dié aansoek moet onder meer die presiese aard van die werksaamhede bevestig asook die moontlike omgewingsimpak oorweeg.

Malgas sê in dié spesifieke geval kan werksaamhede in die rivier of op die rivierwal ’n massiewe impak op die vloei van water hê wat ’n gevolglike impak op ander verbruikers en of infrastruktuur het wat afhanklik van die waterbron is, of naby die rivier geleë is.

Volgens hom kan BVM dus nie op eie diskresie die rivier of gepaardgaande oewers betree en daarin of daarop werk nie.

Malgas sê hoewel bogenoemde werksaamhede voorkomend kan optree, sal dit nie vloedskade heeltemal vermy nie.

Hy sê die werklikheid is dat die informele nedersettings binne ’n vloedlyn geleë is en daar dus ’n voortdurende vloedrisiko sal wees, veral aan nabygeleë nedersettings tydens unieke weersomstandighede soos wat hulle die afgelope twee weke afgespeel het.

Volgens hom het die munisipaliteit – ingevolge omgewingsgoedkeuring – nietemin werk van stapel gestuur om die rivierwal meer bestand te maak teen die oorstromings.

Hy sê verdere werk het plaasgevind nadat die omgewing veilig verklaar is vir die BVM-span en masjinerie om daarin te beweeg.

Malgas sê die BVM het vanaf Dinsdag 13 Junie ook die volgende nood- en humanitêre dienste in die geaffekteerde area gelewer:. Nood-ontruiming van individue asook diere. Die proaktiewe optrede van die BVM-span het bygedra tot geen menslike lewensverlies. ’n Paar diere kon egter nie gered word vanweë die vloedsterkte wat op daardie stadium voorgekom het nie.. Tydelike skuiling is in samewerking met die Verenigde Gereformeerde Kerk in De Nova in die kerksaal aan die geaffekteerde gemeenskap gebied waar hulle humanitêre hulp ontvang het.. Die munisipaliteit het dadelik matrasse, komberse, warm maaltye en ander higiëniese middels beskikbaar gestel. . Die BVM het ook uitgereik na prominente ramp-ondersteuningsorganisasies soos Gift of the Givers. Die BVM bedank hulle asook ander instansies, mense en groepe wat spoedig op die hulpkrete van die gemeenskap en munisipaliteit reageer het. Elke skenking asook die onbaatsugtige diens van vrywilligers het ’n ongelooflike bydrae tot die kollektiewe humanitêre hulp-aksie gelewer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article