’n Smaakmaker (beïnvloeder) van McGregor is verlede week by Netwerk24 se Smaakmaker-toekennings as die wenner van sy afdeling aangekondig.
Jacques Oosthuizen (33) was saam met een ander smaakmaker in die afdeling Wyn met Die Burger benoem. Hy het sy reis as smaakmaker in 2021 begin.
“Ek en ’n vriendin van my moes saam ’n campaign skiet vir ’n nuwe wyn. Ons het tussen die wingerde materiaal kry, en terwyl ons daar was sê sy toe vat daar aan ’n trossie en terwyl ek dit doen, het ek iets snaaks gesê. Sy het ’n video van hierdie oomblik geneem en dit het viral gegaan,” verduidelik Oosthuizen, wat ’n jaar gelede Kaapstad toe verhuis het.
Hy beskryf sy sosialemediaplasings as ’n tong-in-die-kies-manier om mense meer oor wyn te leer. Hy het ook sowat ’n jaar gelede ’n potgooi, “Kurk Trek”, begin.
“Op ‘Kurk Trek’ voer ek onderhoude met celebrities terwyl ons wyn drink en die wyn bespreek. Ek doen deeglike navorsing en delf redelik diep tydens die onderhoude, maar daar is ook baie humor betrokke.”
Toe hy destyds met sy smaakmaker-reis begin het, was dit nie sy doel om as sodanig erken te word nie.
“Dit was ’n kom-ons-kyk-waar-dit-gaan soort ding. En nou ek wil graag weer terugploeg in die gemeenskap en ook mense wat graag smaakmakers wil word, help, want daar is niemand wat ’n mens help of leiding gee nie. Ek glo daaraan ’n mens moet terugploeg in die gemeenskap en nie alles as vanselfsprekend aanvaar nie – dis hoe ek grootgemaak is.”
Oosthuizen sê hy was baie opgewonde om as ’n smaakmaker benoem te word.
“Ek was verskriklik opgewonde. Dit het gevoel soos wanneer die wynbottels ’n spesiale plakkertjie kry. Die benoeming het my ook net meer moed gegee om meer moeite met my goed te doen. Die benoeming het ook baie deure vir my oopgemaak. Ek is ongelooflik trots op wat ek daar buite sit. Die Here het ’n plan gehad.”
Toe hy tydens die gala-aand op Nasdak as die wenner aangekondig is, het hy hoendervleis gekry.
“Hulle het eers die finaliste in die afdeling opgenoem. En ek het heeltyd vir myself gesê ek gaan wen; ek gaan wen.
“Maar toe hulle my naam noem, het ek heel eerste hoendervleis oor my hele kop gekry. Toe was dit soos – ‘Wat?’ Ek was so geskok, maar ek het ook baie vinnig vir myself gesê dit is joune, dit is jou oomblik.”
Hy voeg ook by dat hierdie oorwinning soos ’n verjaarsdag voel.
“Ek is ekstaties. Ek het vir my ma gesê dit voel dieselfde, maar dit voel ook nie dieselfde nie. Ek voel spesiaal. Dit was ongelooflik om tussen al die ander smaakmakers te wees. Dit was ’n eens-in-’n-leeftyd-oomblik. Die Here het my geseën en ek is baie dankbaar.”
Buiten dat hy ’n smaakmaker is, werk Oosthuizen al agt jaar in kommunikasiebestuur vir verskeie wynplase in die Langebergstreek.


