MONTAGU – Dit gaan goed met Gerrie Heyns, die bekende slangvanger wat onlangs ’n inbreker in sy huis betrap het.
“Ek het mos maar net ’n paar steke in my kop gehad, verder is ek 100%.”
Heyns het die oortreder Maandag 8 Januarie om 02:30 in die kamer waar hy slange aanhou, gewaar.
“Toe ek opmerk my kat reageer teenoor iets, het ek eers gedink dis weer my bure se kat wat in my huis is. Toe ek na daai kamer gaan en die lig aansit, het die man daar tussen houers probeer wegkruip.”
Heyns het vir ’n oomblik nie besef wat aangaan nie. “Ek het nie verwag om iemand daar te sien toe ek die lig aansit nie. My eerste reaksie was ‘wat soek jy hier’? Ek het toe opgelet hy het die groen fluweelsak met my ma se as in sy hand. ’n Bakleiery het ontstaan en hy het my met die houtkissie waarin die as is, teen die kop geslaan. Toe ek bloed sien drup, het ek teruggestaan en gekyk of ek nie dalk gesteek is nie.”
Dit het die inbreker genoeg tyd gegee om ’n mes uit te haal.
“Met dit het my seun en my vrou ook ingekom, en om hulle te beskerm, het ek die deur van die vertrek toegemaak. Hy het by die venster in die slangkamer ingebreek en probeer om weer daar uit te klim toe ek hom betrap het. Hy het letterlik vyf meter agter my rondgekruip en ek het hom nie gehoor nie.”
Terwyl Heyns en die inbreker doenig was, het die inbreker na sy medepligtige geskree, maar die medepligtige het toe weggehardloop. Hy is egter later die aand opgespoor en met verskeie besittings van Heyns in sy besit in hegtenis geneem.
“Die een wat ek betrap het, het toe daarin geslaag om by die venster uit te klim en weg te hardloop. Die polisie het toe die volgende dag na sy woning gegaan en hulle het my ma se as op die erf daar gekry, en hy is ook in hegtenis geneem.
“Hy was ten tyde van die voorval nog nie eens ’n maand uit op parool vir ’n vorige huisbraak nie.”
Heyns wil dit ook net duidelik maak dit is nie moontlik vir die slange om uit hul houers te ontsnap nie.
“Hulle word in houers gehou wat van veiligheidsglas gemaak is. Die houers is ook gesluit en word toegegooi.”




