Ouers en leerders van ’n skool in Avianpark is vreeslik ontsteld nadat daar na bewering verlede week vir die hoeveelste keer ’n slang op die skoolterrein gesien is.
“Ons kinders se veiligheid moet mos eerste kom. Kinders verstaan nie altyd die gevaar nie en dink dit is vreeslik snaaks om ’n slang op die skoolterrein te sien, maar dit is gevaarlik. Wat as ’n slang ’n kind pik of aanval?”
So verduidelik Clemont Plaatjies, ’n voog van een van die leerders by die skool.
“Die seun wat hier by ons woon, het een middag kom vertel hulle het ’n groot slang op die skoolterrein gesien en dat van die leerders bang en ander weer baie nuuskierig was. Daar is al met die skool gepraat oor hierdie probleem.”
’n Ma van die skool het haarself ook onlangs tot ’n plaaslike Facebookblad gewend om raad te vra vir hierdie probleem.
In die skrywe vertel Steffinice Muggels dat sy as ouer hierdie kwessie vroeër vanjaar op ’n vergadering opgehaal het, maar niks het daarvan gekom nie.
Sy verduidelik ook die situasie rondom vorige slange wat al op die terrein gevind is en skryf dit toe aan die manier hoe die terrein opgerig is. Muggels voeg by daar is bykans geen gras vir die kinders nie en dat net klippe tussen die grond lê en dit ’n perfekte tuismaakplek vir slange is.
“Tot op hede is nog niks daaraan gedoen nie. Ek het foto’s van die terrein en voel die departement moet iets daaraan doen. Hoe moet ons kinders tussen grond en klippe beweeg en dan nog in vrees lewe vir slange?”
Die Wes-Kaapse Departement van Onderwys (WKOD) het by navraag nie bevestig of hulle enigsins voorheen al soortgelyke probleme by hierdie betrokke skool met slange ondervind het nie.
“Die skool het teenstrydige berigte van leerders ontvang oor ’n slang of moontlike slange op die skoolterrein. Personeellede het die situasie ondersoek, maar geen teken van slange is gesien nie. Die skool het ’n slangvanger wat op bystand is om die slang van die skoolterrein te verwyder indien dit opgemerk word,” sê Millicent Merton, woordvoerder van die WKOD.
Muggels is nie tevrede met hierdie antwoord van die WKOD nie en sê sy sal dit verder neem.
“Dit klink meer of hulle die probleem onder die mat probeer invee. Hoe moet kinders in sulke omstandighede – in grond en klip – skoolgaan? ’n Kind van sesjarige ouderdom gaan nie weet wat om met ’n slang te doen as hy of sy een teëkom nie. Ek gaan dit verder neem. Al moet ek ’n petisie opstel en ouers dit laat teken,” voeg sy by.




