Plaaslike paaie het weer hul tol geëis met talle noodlottige motorongelukke.Foto: One Way Towing


Talle gru-ongelukke op paaie het vanjaar weer die lewe van talle mense geëis.

Een hiervan was ’n botsing op die N1 naby Rawsonville, wat die lewe van ’n gesin van drie van Worcester geëis het.

Ethan Bakkes, ’n leerder by Worcester Gimnasium, en sy ma, Jackie, is op die toneel dood. Sy pa, Ewald, is dae later in die hospitaal oorlede.

Die voertuig waarin hulle gereis het, ’n wit Hyundai Elantra, het reg van voor teen ’n aankomende dubbelkajuit-Toyota Hilux-bakkie gebots.

Daarna het nóg ’n tragedie Worcesteriete getref toe ’n plaaslike brandweerman en lid van die bekende Ismail-familie, Adeeb Ismail, op 13 September in ’n motorfietsongeluk in die Piekenierskloofpas gesterf het.

Adeeb was op pad na ’n motorfietssaamtrek in Springbok toe die noodlot op Piekenierskloofpas hom getref het.

Meer onlangs is drie beamptes van die Langeberg-munisipaliteit op die pad tussen Robertson en Ashton ná hul jaareindgeselligheid dood.

Die oorledenes was Mava Shude (33) van Worcester, Bathandwa Lephaila (33) van Nkqubela, Robertson, en Jacoline Matthys (46) van Ashton.

Shude was die munisipaliteit se finansiële hoof. Lephaila was ’n senior klerk by datavaslegging, terwyl Matthys ’n kassier was.

Joseline Buis (48), Shude se persoonlike assistent, het die ongeluk oorleef. Buis en haar kollegas het uit die rigting van Ashton in die rigting van Robertson gereis toe die voertuig gerol het nadat die bestuurder beheer daaroor verloor het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article