Die tender vir die implementering van die Langeberg- munisipale pad-batebestuursplan ter waarde van R52 800 048,28 het begin met die opgradering van bestaande paaie in Robertson, Ashton, Bonnievale en Montagu.
Die herstel-, herseël- en herverwerkingsprojek het op 27 September in Adderleystraat, Robertson, begin.
Die Langeberg-munisipaliteit word weens vroeër begrotingsbeperkings deur ’n groot agterstand in die instandhouding van padinfrastruktuur in die gesig gestaar.
Reënval die afgelope seisoen het dit ook nie net baie moeilik gemaak om paaie reg te maak nie, maar die nat toestande dra ook by tot die verdere agteruitgang van die padoppervlak.
Die gemeenskap van Langeberg sal binnekort sien hoe groot vordering gemaak word om hierdie agterstand te probeer uitwis.
Hoewel bykomende finansiering benodig word om die algehele behoefte die hoof te bied, sal hierdie projek gewis ’n hele aantal paaie verbeter.
Die munisipaliteit doen ’n beroep op alle padgebruikers om geduldig te wees, aangesien dele van die pad gesluit of gedeeltelik oop sal wees terwyl werk voltooi word, en verkeersvertragings moet te wagte wees.
Bestuurders word gevra om versigtig te wees wanneer hulle deur konstruksiegebiede ry waar mense op of naby die pad werk.
Verskeie paaie sal gedurende die 2023-’24-boekjaar deel van die projek wees.
Die rehabilitasie van hierdie paaie sal die verlengde lewensduur van die paaie in die gebied verseker.
Dit is belangrik om daarop te let dat nie alle paaie wat geïdentifiseer is, dieselfde rehabilitasiemetode sal ontvang nie. Sommige paaie sal slegs ’n slurry-seël ontvang.
Die munisipaliteit gaan ook voort met die slaggat-herstelprogram en die skoonmaak van stormwaterkanale.
’n Beroep word op die gemeenskap gedoen om aan te hou om slaggate by die munisipaliteit se 24/7-inbelsentrum aan te meld by 0860 88 1111 of 023 615 2219, deur WhatsApp by 065 211 7822 of per e-pos na info@langeberg.gov.za.
Die slaggatherstelprogram word maandeliks op die munisipale webwerf gepubliseer by www.langeberg.gov.za/services/road-infrastructure.
Die sivielewerkespan doen sy bes om op skedule te bly, maar dit is onderhewig aan die weer en ander dringende sake wat die span se aandag verg, soos onder meer pype wat bars, stormwaterprobleme en onklaarrakings.


