Ná talle bewerings en verskeie aantygings teen die plaaslike diereskut, het Standardvandeesweek self besoek afgelê en met die bestuurder gesels.
Tesna Palvie van Leo’s Foundation is in Mei verlede jaar aangewys as die persoon aan wie die tender toegeken is om die skut vir die volgende paar jaar te bestuur. Palvie is al dekades lank ’n kampvegter vir diere en diereregte. Sy het ook haar passieprojek, Touwsrivier Diere, bestuur en bedryf. Hoewel die organisasie steeds bestaan, is die meerderheid van Palvie se aandag op Leo’s Foundation gerig.
“Ek het aanvanklik nie eens eintlik om die tender aansoek gedoen nie. Ek was betrokke by die proses nadat talle van ons plaaslike organisasies saam besluit het om die diere in die gemeenskap eerste te stel en ’n verskil te maak in dierewelstand in die Breedevallei. Breedevallei-munisipaliteit (BVM) het my egter ingelig dat hulle die tender aan my gaan toeken. Ek was dankbaar, maar die teenstand was groot,” vertel sy aan Standard.
Palvie vertel dat daar ook diegene is wat nie hul omstandighede ken nie en dat afguns soms heers as dit by hul organisasie kom.
“Dierebeskerming het meer politiek as die regering. Jy kan nie ’n voetjie verkeerd sit nie, al is jou enigste doel om ’n dier in nood te help – dit is immers waaroor dit gaan. Niemand weet hoe moeilik dit soms gegaan het en party dae steeds gaan nie.”
Hoewel die tender in Mei 2021 aan Palvie en die span toegeken is, kon sy eers in Junie tydelik in een van die store intrek aangesien die vorige eienaars nog die geboue beset het.
“Ons kon eers Oktober verlede jaar in die geboue intrek en dit volwaardig ons eie maak. Dit het ook met ’n magdom uitdagings gekom.”
Een van die uitdagings was dat sy nie bewus is dat sy verantwoordelik is vir opknapping nie. Volgens die tenderkontrak moet Palvie sorg vir instandhouding en opknapping. ’n Faktor wat geheel en al staatmaak op geldinsameling en donasies – iets wat hierdie organisasie min van kry.
“Ons moet self ons geld insamel en alles in stand hou. Ons moet ook toesien dat diere dag of nag versorg word en ons beskikbaar is om enige plek heen te ry vir ’n noodgeval. Dit is ’n 24-uur werk. Ons probeer ons bes,” voeg sy by.
Toe Standard vra of die beweerde slegte reputasie van die vorige bestuur dalk ’n rede kan wees vir min donasies, het Palvie dit slegs gestel dat sy nie weet nie, maar dat dit ’n moontlikheid mag wees.
Verlede week het Standard berig oor verskeie aantygings teen hierdie skut. Dit het gehandel oor beweerde onhigiëniese praktyke en oorbesetting van die hokke en die terrein.
Palvie het die aantygings ten sterkste ontken en dit gestel dat sy die diere meer vryheid gee om buite die hokke te beweeg.
Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (DBV) het dit egter gestel dat hy aan Palvie ’n waarskuwing uitgereik het in hierdie verband.
“Ek kan nie diere wegwys nie. As daar diere in nood is, moet ons help. Dit is ons mandaat. Al wat onhigiënies is by ons, is die feit dat ons al maande sukkel met geblokte dreine en die opeenhoping van water in die hokke. Ons het dit al talle kere aangemeld.”
Die Breedevallei-munisipaliteit het in ’n skrywe aan Standard die probleme met die rioolstelsel bevestig.
“Die skut het ’n skielike toestroming van diere ervaar wat skielike toename in getalle veroorsaak het. Volgens ons verordening moet alle diere vir minstens sewe dae aangehou word. Diegene wat nie gehaal word of aangeneem word nie, sal uitgesit moet word. Laasgenoemde het reeds begin.
“Die verstopte rioolnetwerk by die Korrektiewe Dienste het die rioolnetwerk van die skut laat oorstroom. Diere moes uit hul onderskeie hokke verwyder word.
“Ons tegniese direktoraat is tans besig om die netwerk te herstel,” het BVM se woordvoerder, Hannelie Botha, gesê.
Palvie stel dat die afgelope paar maande ’n groot kopseer was en dat sy dankbaar is vir BVM se bystand, maar dat hy meer kan doen om hulle te help en sodoende die diere se welstand in die gemeenskap as ’n prioriteit te ag.
“Ons doen net wat ons kan doen. Ons het soveel suksesverhale van diere wat geen kans op oorlewing gehad het nie en vandag ’n volle lewe leef. Ons het verwilderde en beseerde diere al bygestaan en is al sleggesê en beroof deur net ons pligte uit te voer. Ons volg die wet en die mandaat wat daar gestel is, maar soms moet ons ook menslik optree. Ons het ten alle tye ’n wetstoepassingsbeampte wat op die terrein is en ons bystaan.
“Ons is steeds oop vir aannemings en sal altyd help waar ons kan,” sê Palvie.



