Die land se 257 munisipaliteite word meer as R300 miljard deur hul onderskeie inwoners geskuld.

So het die minister van finansies, Enoch Godongwana, verlede maand in sy begrotingsrede gesê.

En die Breedevallei Munisipaliteit (BVM) ly ook erg hieronder, met hul uitstaande skuld wat in November 2022 op R269 384 115 gestaan het.

’n Navraag is aan die BVM gerig oor die uitstaande skuld.

Standard is verwys na die BVM se webtuiste. Bogenoemde bedrag word wel gemeld in ’n finansiële bestuursverslag gedateer November 2022.

Volgens die dokument is skuld ter waarde van R54 584 469 aan prokureurs in November oorhandig om ingewin te word.

Die inwinningsproses gebruik verskeie maniere om met inwoners oor hul skuld in kontak te kom. Inwoners word óf gebel óf word ’n SMS gestuur. Skuld ouer as 90 dae word egter beskryf as skuld wat moeilik is om in te win en kan moontlik deur die munisipaliteit afgeskryf word.

Inwoners word ook op die BVM se webtuiste aangeraai om met die munisipaliteit kontak te maak oor hul skuld. Daar is egter ook baie gevalle waar die munisipaliteit huishoudings of instansies se skuld moet afskryf.

Volgens die BVM se webtuiste is daar verskeie kategorieë waaronder skuld afgeskryf kan word, soos klein saldo’s, insolvente skuldenaars en insolvente bestorwe boedels en onopspoorbare debiteure.

Die nasionale tesourie het Maandag 13 Maart ’n verslag op sy webtuiste geplaas waarin dit noem skuld aan munisipaliteite beloop R305,8 miljard op 31 Desember 2022, in vergelyking met die vorige jaar se R265,5 miljard.

Omtrent 84% van hierdie skuld is meer as 90 dae uitstaande en 71% hiervan word aan huishoudings toegeskryf.

Die grootste komponent van hierdie skuld hou verband met huishoudings wat verantwoordelik is vir 71,1% of R217,7 miljard (69,8% of R202,4 miljard in die eerste kwartaal van die huidige boekjaar).

Voorts meld die verslag, ingesluit by die uitstaande skuld is ’n bedrag van R256, 7 miljard, wat skuld ouer as 90 dae is (historiese skuld wat oor ’n lang tydperk opgehoop het), rente op agterstallige skuld en ander verhalings wat moontlik nie realisties deur munisipaliteite invorderbaar is nie.

Indien verbruikerskuld tot minder as 90 dae beperk word, word die werklike realisties invorderbare bedrag op R49 miljard geraam. Die dokument sê ook hierdie bedrag moet nie bygereken word as die nasionale tesourie voorstel dat skuld deur munisipaliteite afgeskryf moet word nie.

Volgens die tesourie se dokument is hierdie inligting gepubliseer ingevolge Artikels 71 van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur, 2003 (Wet No. 56 van 2003) en 30(3) van die Wet op die Verdeling van Inkomste, 2022 (Wet No. 5 van 2022). Die begrote syfers wat gewys word, is gegrond op die 2022-’23 goedgekeurde begrotings wat deur munisipale rade goedgekeur is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article