Ná nog ’n akademiese jaar afgehandel waarin opvoeders, leerders en dikwels ook ouers vele opofferings moes maak om bevredigende matriekuitslae te verseker, is die langverwagte uitslae uiteindelik bekend gemaak.
Veral hier in ons streek is daar ’n groot mate van tevredenheid te bespeur wat oor die algemeen nie te sleg was nie. Sommige skole (en leerders) s’n was nie wat verwag is nie, maar uiteindelik was die lang gewag ná die eksamen vir uitslae ten minste nou verby.
Dat die uitslae egter ook sy kwota probleme met hom saambring, is ook waar. Honderde suksesvolle kandidate kan nou met groot verwagting uitsien na ’n nuwe tydvak in hul lewe wat nou aangebreek het. Veral op dié wat bevoorreg is om verder te gaan studeer wag nuwe horisonne aan tersiêre instellings.
Vir vele van die klas van 2022 lyk dinge egter nie so rooskleurig nie, want met ouers wat vasgevang is in moeilike maatskaplik-ekonomiese omstandighede, werkloos of seisoenale werkers is, is die kanse feitlik nul om verder te gaan studeer indien daar nie vooraf voorsorg getref is om hulle iewers geholpe te kry nie.
Dit kan ongelukkig ook nou verder bydra dat ons land se werkloosheidsyfers net groter en groter word.
Burnette Johannes, wat die afgelope meer as 30 jaar as finansiële beampte by verskeie skole gewerk het waarvan die laaste 17 jaar by die Hoërskool Breërivier, het in haar werk ervaar watter reperkussies dit kan veroorsaak en hoe dit gemeenskappe in die langtermyn raak. In die proses word ook kinders met hope talent en vaardighede weerhou om hul voet in die arbeidsmark te kry.
Om dié rede het sy ’n geleentheid gesien om ’n vaardigheid aan te leer, te bemeester en weer met ander te deel om sodoende ’n verskil in die gemeenskap te maak.
Sy bied tans kursusse in leerwerk aan wat daarop gemik is om studente wat die kuns bemeester in staat te stel om ’n lewe as entrepreneur voort te sit. Haar kursusse sluit in die knip, stik en maak van mans- en vrouebeursies, handsakke, sakkies vir toiletware, Bybel- en gesangboek-oortreksels en vele meer.
Wat dit verder interessant maak, is dat kursusgangers vir die duur van die kursus haar apparaat asook enige ander benodigdhede kan gebruik. Nog ’n plus is dat elke artikel wat die student voltooi sy eiendom word.
Ook die patroon of vorm wat hy of sy sou gebruik vir die maak van die artikel, word die eiendom van die student.
Daar is ’n fooi vir registrasie en die maak van die artikels. Dit sal vervaardig word teen ’n billike prys, wat na afloop van die kursus die kursusganger se eiendom word. Skootrekenaarsak R1 750, rugsak R1 500, inkopiesak R1 500, vrouehandsak R1 500, boodskappersak R1 500, toiletwaresak(mans en vroue) R500, beursie (mans en vroue) R500, dagboekoortreksel A5 R500 en dagboekoortreksel A4 R650.
Beskou dit egter as ’n belegging in jou toekoms en maak onverwyld kontak met Johannes.
Vir navrae en registrasie, kontak haar by 073 997 4152 of besoek die kursus-sentrum by Sheardstraat 119, net agter GS40 (daghospitaal).



