Die CANSA Relay For Life is ’n internasionale geleentheid wat deur kankerverenigings oor die wêreld heen aangebied word.
Die doel daarvan is eerstens om ’n spesiale geleentheid te skep waar gemeenskappe hul solidariteit kan toon met mense wat deur kanker geraak word.
Die Relay For Life staan op drie bene: . Vier dit, waar ons saam met mense wat kanker oorleef het, feesvier. . Onthou dit, waar ons hulle onthou wat deur kanker van ons weggeneem is.. Veg terug, waar ons hulle wat steeds die stryd stry, aanmoedig om te bly terugveg.
Vanjaar se plaaslike CANSA Relay for Life vind plaas op 3 Februarie by Rawsonville Equestrian Centre.
Dit is ook ’n groot geleentheid om geld in te samel waarmee kanker beveg kan word en mense met kanker ondersteun kan word. Alle inkomste gaan na die Kankervereniging (Kansa). Op sy webblad is dit duidelik waarvoor die geld aangewend word: https://cansa.org.za/
Die hele gebeurtenis geskied in die vorm van ’n aflosstap wat regdeur die nag plaasvind.
Hierdeur druk hulle simbolies uit dat hulle saam met mense deur hul donkerste nagte stap.
Spanne van 10-15 mense skryf in en stap dan deur die nag om die veld. Sakeondernemings en skole kan hierdie as ’n bemarkingsgeleentheid gebruik deur te wys hul maatskappy of skool ondersteun mense met kanker.
Elke span kry ’n gebied waar hy hom tuismaak vir die nag en kan opmaak soos hy wil. Minstens twee lede van elke span moet voortdurend aan die stap wees.
Elke span beeld ook ’n soort kanker uit en so skep hulle bewusmaking van kanker.
Dit begin met ’n spesiale byeenkoms vir die oorwinnaars (almal wat steeds die stryd stry of in remissie is) die middag voor die geleentheid om 16:00. Die “survivors” is die eregaste en word op die dag bederf.
Om 18:00 is die openingseremonie waar hulle ’n paar spesiale rondtes stap, beginnende met die rondte vir die oorwinnaars, dan die versorgers ensovoorts.
Om 21:00 is die spesiale luminaria-seremonie waar liggies in sakkies rondom die veld geplaas word. Elke sakkie verteenwoordig iemand wat aan kanker dood is en word vooraf deur deelnemers vir spesifieke mense opgemaak.
Vir ’n rukkie is daar stilte om hierdie mense te onthou.
Verskeie ander seremonies vind deur die nag plaas tot by die afsluitingseremonie kort voor 06:00 Sondagoggend.
Daar is eetgoed, kunstenaars wat optree en hope pret regdeur die nag.
Mense wat nie in spanne is nie, is ook baie welkom om saam te stap.
Dit kos R50 per persoon om tot middernag te bly en R100 om reg deur die nag te bly.
Vir meer inligting of om in te skryf, stuur e-pos na rudolphschar@gmail.com besoek https://relayforlife.org.za/




