Die sangeres Leah sien daarna uit om weer dorpe in nood uit die sloot uit te grawe.


Die inspirerende kykNET-reeks, Lottoland Help ’n Dorp, keer volgende jaar terug met ’n vierde reeks – en dorpe oor Suid-Afrika heen het nou die kans om in te skryf.

Lottoland Help ’n Dorp het reeds meer as 38 dorpe oor Suid-Afrika heen gehelp en Lottoland het meer as R15 miljoen in die platteland ingeploeg. Swembaddens is opgeknap, hoofstrate en ingange is verfraai, historiese bakens dra ’n nuwe baadjie, stortingsterreine is reggeruk en verskeie speel- en natuurparke is gevestig.

Buiten die visuele transformasies, het dorpe ook nuwe hoop gekry.

Gemeenskappe het gesien wat kán gebeur as mense saam-staan. Inwoners het opnuut bewus geraak dat herlewing moontlik is. Toerisme en gemeenskapsprojekte het in talle dorpe weer opnuut vlam- gevat. Buurdorpe is daardeur geïnspireer om self ook die moue op te rol en hul dorpe te verfraai.

Nou het Suid-Afrikaners weer die kans om met behulp van Lottoland ’n verskil in hul dorpe te maak. Ses dorpe gaan in reeks vier die geleentheid kry om hul droomprojekte in ’n werklikheid om te skep. Kykers gaan elke dorp se reis oor twee episodes volg en sien hoe spanne planne maak om hul dorpe binne agt weke te transformeer.

Die Lottoland-hupstoot gaan groter wees – elke dorp het ’n maksimum begroting van R1 miljoen. Daarom soek die vervaardigers na projekspanne met ’n groot visie vir hul dorp – maar terselfdertyd ook projekspanne met ’n fyn beplanningsvermoë en goeie samewerking om dié visie ’n werklikheid te maak.

Belangstellendes kan hul droomprojekte voor 25 Januarie 2025 inskryf. ’n Komitee bestaande uit inwoners moet ’n projekplan indien en ’n inskrywingsblad voltooi. Die projekplanne gaan dan deur ’n evaluasie- en keuringsproses.

Die aanbieder van die reeks, die gewilde sangeres Leah, verras dan die ses suksesvolle dorpe met ’n hupstoot van Lottoland en sy keer ná agt weke terug om te kyk wat het die gemeenskap verrig met die hulp wat hulle ontvang het.

Skryf so in:
. Laai die projekplan hier af: https://bit.ly/lottoland-help-n-dorp-inskrywing. Vul die projekplan in, of volg die templaat en maak jou eie projekplan.. Stuur die voltooide projekplan met ondersteunende dokumente na dankielottoland@gmail.com. . Inskrywings sluit 25 Januarie 2025.. Voorwaardes en bepalings geld en word op die projekplan vermeld.

Stuur navrae na dankielottoland@gmail.com.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article