NAMPO Kaap skep geleenthede vir die jeug om nie net die toekoms van landbou raak te sien nie, maar ook om deur Jeugskou aktief by landbou betrokke te wees.

“Leerders kry die kans om landbou eerstehands te ervaar. Om met diere te werk is ’n voorreg, want dit leer verantwoordelikheid en bevorder emosionele groei. Kinders se veiligheid en gevoel van onafhanklikheid word albei verhoog deur die skakel wat tussen mens en dier ontwikkel,” sê Madeline Kriel, koördineerder van die Overbergse Streekjeugskou.

Die Overberg Streekjeugskou-kompetisie vind Saterdag 16 September plaas en is een van agt streekkompetisies in die Wes-Kaap waaraan leerders deelneem om vir die Wes-Kaapse Jeugskoukampioenskappe te kwalifiseer.

Tydens die WP-kampioenskappe word ’n span gekies om aan die nasionale Jeugskou-kampioenskappe deel te neem.

Seuns en meisies tot die ouderdom van 17 kan aan die Jeugskou-kompetisies deelneem.

Die drie ouderdomskategorieë is:

. Junior-juniors (ouderdom 5-10);

. Juniors (ouderdom 11-14); en

. Seniors (ouderdom 15-17).

Die 14 afdelings waarvoor ingeskryf kan word, sluit in melk- en vleisbeeste; wol- en vleisskape; Angorabokke, vleis- en melkbokke; pluimvee; perde; wedvlugte en sierduiwe; konyne; jong afslaers; kulinêre kuns en suiwelbereiding.

Pierre Human, ondervoorsitter van die Wes-Kaapse Jeugskouvereniging en ’n jeugskouafrigter, sê dit is belangrik om die jeug van jongs af by landbou te betrek.

“Ons het gevind dat Jeugskou baie gewild is, veral onder leerders wat nie gereeld toegang tot landbou het nie. Dit is van kardinale belang om hul blootstelling en deelname aan landbou te ontwikkel en aan te moedig vir ’n volhoubare toekoms.

“Die twee jaar van geen Jeugskou-aktiwiteite weens die COVID-19-pandemie nie, het ’n nadelige uitwerking op die deelname van jonger leerders gehad.

“Ons het ’n afname in die aantal inskrywings van jong en nuwe Jeugskou-deelnemers gesien,” sê Human.

“Met die ondersteuning van Agri Expo is ons in staat om vir eerstekeer-deelnemers van 5-13 jaar ’n opleidingsessie in alle afdelings by die Overberg Streekjeugskou aan te bied. Deelnemers sal belangrike vaardighede aanleer om hul Jeugskou-aktiwiteite van stapel te stuur,” sê Kriel.

“Jeugskou behoort ’n groter rol in die Suid-Afrikaanse landbousektor te speel. Jeugskou is ’n bron van toekomstige landbouleiers, en dit kan gesien word in die prestasies van voormalige Jeugskou-mededingers in tersiêre opleiding en die professionele wêreld,” sê Breyton Milford, voorsitter van die Wes-Kaapse Jeugskouvereniging.

“Ons verwelkom hierdie geleentheid om ook leerders met gestremdhede en leerders uit benadeelde agtergronde bloot te stel aan die voordele van Jeugskou.”

Die opleidingsessie vir alle afdelings vind op 16 September van 08:00 tot 09:45 plaas.

Die sluitingsdatum vir inskrywings is 30 Augustus.

Registrasie vind van 08:00 af by Hek C, BKB Lewendehawesentrum plaas.

. Vir meer inligting, of om in te skryf, kontak Madeline Kriel by 071 280 0239 of madelinekriel894@gmail.com

Toeskouers is welkom om die gees van Jeugskou en wat die kompetisie behels op 16 September van 10:00 af te ervaar.

Diere sal by die BKB Lewendehawesentrum vertoon word, en die kulinêre kuns en suiwelbereiding sal in die Distinctive Choice-tent voor die BKB-gebou wees.

Toegangskaartjies is aanlyn beskikbaar by www.ticketpros.co.za. Pryse is R80 vir volwassenes en R40 vir skoolgaande kinders.

Toegang vir voorskoolse kinders is gratis.

Daar sal kaartjies te koop wees by die hekke, teen R90 vir volwassene.

Die ekspo duur van Woensdag 13 September tot Vrydag 15 September van 08:00 tot 17:00 en Saterdag 16 September van 08:00 tot 15:00.

Besoekers kan die Kaap Agulhas-toerismekantoor kontak vir verblyf by 028 424 2584/082 896 2225 of op die webtuiste www.overberg-info.co.za

. Vir meer inligting oor NAMPO Kaap 2023, besoek www.expo.org.za, kontak Chrystal van Wyk by 028 050 1385 of stuur ’n e-pos aan admin@expo.org.za

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article