Skote wat vanoggend (Sondag 15 Oktober) in die middedorp van Worcester afgevuur is het die gemeenskap in rep-en-roer gehad.
Verskeie boodskappe wat op sosiale media gesirkuleer was het mense gewaarsku om weg te bly van die Shoprite- en Boxer-winkels weens skietery en klipgooi. Die boodskappe het ook gesê daar is glo twee mense raakgeskiet, maar die polisie kon op hierdie stadium dit nog nie bevestig nie.
AO Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder vir die Worcester-polisie het wel bevestig die skietery is bendeverwant en dat die polisie rubberkoeëls moes gebruik om die skare onder beheer te kry.
“Volgens inligting het bendelede na een van ’n ander bende se lede in Russelskema gaan soek. Die seun se ma het toe die polisie gebel om die bendelede te kom verwyder.
“Met die polisie se aankoms op die toneel het die gemeenskap glo oproerig geraak en dinge het begin handuit ruk. Meer as een polisievoertuig is ook in die proses beskadig. Die polisielede het toe rubberkoeëls afgevuur om die skare uitmekaar te jaag,” het Jacobs aan Standard verduidelik.
In hierdie stadium is dit nog nie bevestig of daar enige iemand in hegtenis geneem was nie.
Lees meer hieroor in Donderdag se Standard & Breederivier Gazette.


