WORCESTER – Die gemeenskap van Russelskema is in rep en roer oor die gebeure wat Sondag (15 Oktober) daar afgespeel het.
Soos Standard & Gazette Sondag op Netwerk24 berig het, het skote vroegoggend geklap toe die polisie rubberkoeëls afgevuur het.
Volgens ’n inwoner van Russelskema het die drama al om 05:45 begin afspeel toe ’n bendelid die buurt met ’n vuurwapen binnegegaan het.
“Die bendelid het na sy ma toe gegaan, wat ook daar in Russelskema woon. Toe hy daar in Russelskema aankom, het drie mense hom met die gun gesien. Hy is glo ook deur ’n speurder- bakkie begelei. Hy het langs die bakkie gehardloop. Hy het die gun êrens elders gesteel, glo van sy nefie, toe slaan hulle hom en steek hom in die gesig. Hy het toe na sy ma toe gegaan vir hulp. Toe die gemeenskap verder van sy teenwoordigheid bewus raak, het hulle voor die huis begin saamdrom.
“In ons buurt woon ook JCY-bendelede en hulle was onrustig oor die man se teenwoordigheid; hy is van ’n ander bende,” verduidelik die inwoner wat verkies het om anoniem te bly.
Die inwoner verduidelik ook dat bendelede wat in die gebied woon het ook saam met die res van die bure voor die huis saamgedrom.
“Die man se ma het toe die polisie ontbied om die mense voor haar huis te verwyder, want sy het bang geraak. Een polisievoertuig met twee polisiebeamptes het opgedaag en hulle is na hul huis toe. Die polisiebeamptes het toe vir back-up gebel en nog twee vans het opgedaag en daai beamptes het sommer gereed met wapens gekom.”
Sy vertel ook die vrou van die huis se kleindogter en haar baba was ook in die huis toe haar seun daar opdaag.
“Dit is al rede hoekom die gemeenskap nie die huis betree het nie, uit respek vir die baba se welstand. Die vrou het toe later haar kleindogter met haar baba uitgestuur, maar dis ook toe hulle die gun in die baba se sak weggesteek het, toe kry die polisie niks in die huis nie. Dit blyk hy het gekom om mense in Russelskema te skiet.”
Ná ’n gedoente het die polisiebeamptes die man uit die huis deur die skare begelei.
“Wat die mense nog meer omgekrap het, is die feit dat hy met ’n okapi saam met die polisie uitgeloop het. Dis toe dinge erger begin raak het. Toe hulle hom in die van sit, het die gemeenskap klippe teen die van gegooi. Die polisie het toe op die skare begin skiet.”
’n Ander inwoner van Russelskema vertel van ’n 28-jarige man wat in die skietery glo deur polisiebeamptes ernstig gewond is. Die man, Lorenzo Steenkamp, is in die hospitaal opgeneem met vyf vingers wat aan flentertjies gehang het en ’n gebreekte gewrig. Hy is ook teen die kop en in die regterarm getref.
“Ek het agter die skare gestaan en was nie deel van die oproerigheid nie. Ek is ook ’n JCY-lid. Voor ek geskiet is, het die polisieman vir my gesê hy wag al lankal vir my. En toe hy my raakskiet, toe sê hy ‘daar het ek hom’. Hy het my weer begin skiet en ek het my hande opgelig en voor my gesig gehou en hy het aangehou skiet. Vingers aan albei my hande is raakgeskiet en van hulle het aan ’n flentertjie gehang. Ek het toe weggehardloop. Ek het begin lam voel en kon nie my liggaam voel nie. Ek het teruggekyk en is toe in die kop ook en in die arm geskiet. Ek het na ’n vriend se huis toe gehardloop en toe na ’n ander meisie toe, wat ’n paramedic is, en sy het my gehelp en die ambulans gebel,” het Steenkamp uit sy hospitaalbed vertel.
Hy vertel ook terwyl hy in ongevalle gewag het om gehelp te word, het drie polisiebeamptes aangekom wat na hom gesoek het. “Hulle het nie eens geweet na wie hulle soek nie. Maar hulle het my toe opgespoor en gevra of ek ’n saak gaan maak, hoe laat ek geskiet is en of ek weet wie my geskiet het. Ek het net vir hulle gevra om my uit te los. Ek vermoed daai polisieman wat my geskiet het, het dit gedoen oor ’n vorige voorval waarby ek betrokke was. ’n Paar maande gelede het ek en my vriende oorkant ’n winkel gesit en drink. Een het toe na die winkel toe gegaan en raak toe kwaad, want die winkeleienaar het lank gevat om hom te help en toe begin skree. Ek het oor die pad gegaan om hom te kalmeer en die polisie het op dieselfde tyd daar opgedaag. En dis toe ’n onderonsie tussen ons ontstaan het. Maar ek weet wie my geskiet het. Hy het nie eens ’n waarskuwingskoot afgevuur nie.” Nog inwoners is glo ook raakgeskiet en het verskeie beserings as gevolg hiervan opgedoen.
Die bendelid in die eerste voorval is deur die polisie weggeneem en later vrygelaat.
“Hy en twee ander mense het toe later die aand weer na die buurt teruggekeer en net begin skiet. Hy wou twee mense van naby skiet, maar die gun het gehaak. Hulle het toe geloop. Die polisie is weer ontbied, maar hulle het te laat daar aangekom en weer gery. Daai ander drie het toe iemand met die gun beroof, en toevallig het die polisie op hulle afgekom. Hy het toe die gun weggesteek en sy ma gebel om te sê waar dit is. Hulle al drie is toe vir die roof in hegtenis geneem.”
Volgens AO Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder van die Worcester-polisie, is die polisie om 07:30 deur die man met die vuurwapen se ma ontbied.
“Die vrou het gesê haar seun is in die huis en lede van ’n mededingende bende staan buite hul huis en dreig om haar seun dood te maak. Toe die polisiebeamptes die man uit die huis wou begelei, het die publiek klippe na hulle begin gooi. Hulle het toe ander polisiebeamptes ontbied om te help. Twee beamptes is Sondag gewond. Polisievoertuie is ook in die proses beskadig. Volgens ons rekords is geen omstander ernstig beseer nie. Daar is ook geen verslag dat die man weer in Russelskema gaan skiet het nie. Ek kan ook nie bevestig of hy later die aand in hegtenis geneem is nie.”
Sy verduidelik ook hoekom die polisie die man uit die huis moes help.
“Die man se ma het die polisie gekontak en dit beteken sy en haar seun is die klaers en dus moes die polisie hulle help.”




