Wat veronderstel was om ’n aand van pret en plesier by die plaaslike karnaval te wees, het vir besoekers aan Worcester in ’n nagmerrie ontaard.
’n Reisende karnaval van Gauteng, wat deur Suid-Afrika toer en gereeld in Worcester kom draai, was die afgelope naweek vir gesinne weer ’n geleentheid om uit te span.
Hierdie feestelike atmosfeer op Queensplein het egter vinnig verander toe ’n geveg tussen ’n groep tieners uitbreek en selfs skote later afgevuur is.
In ’n videogreep wat wyd op sosiale media gedeel is, kan duidelik gesien word hoe ’n groep tienerseuns ’n man aanval en sy stalletjie verwoes. Dit wys duidelik hoe hulle op die man skree en hoe hierdie onderonsie buite beheer geraak het.
In ’n tweede video word gesien hoe mense rondom die stalletjie rondskarrel voordat ’n man met ’n vuurwapen die toneel betree en ’n skoot in die lug afvuur.
Omstanders en besoekers se gille word duidelik gehoor en mense het omtrent oor hul voete geval om skuiling te vind.
Dit is egter onseker wat tot die onderonsie tussen die tieners en die man wat die stalletjie beman het, gelei het.
’n Besoeker aan die karnaval, Tynesia Smith, het vertel dat sy en haar twee kinders heerlik by die karnaval rondgeloop het voordat die rustigheid versteur is.
“Ek het in ’n ry gestaan en wag vir my kosbestelling en skielik gehoor hoe mense op mekaar skree en gesien hoe ’n bakleiery uitbreek. Ek het dadelik my kinders gaan soek, want alles het op moeilikheid gedui.
“Die volgende oomblik het die skote geklap en ek het platgeval. Ek het net gebid dat my kinders veilig is. Ek het nie geweet wat aangaan nie.”
Sy sê alles het so vinnig gebeur en die ergste het deur haar kop geflits.
“ ’n Mens weet nie meer waar jy veilig is nie. Ek het my kinders darem aan die ander kant van die karnaval gekry, en hulle was veilig. Ek was nog nooit so dankbaar nie. Ons het dadelik teruggestap huis toe.”
Na wat verneem word, het ’n bekende plaaslike sake-eienaar by die karnaval opgedaag om die situasie tussen die tienerseuns en die stalletjiehouer te ontlont.
Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder van die Worcester-polisie, het die voorval aan Standard bevestig.
“Daar was inderdaad ’n skietery by die karnaval, maar daar is ongelukkig geen saak geopen nie aangesien die getuies wat die voorval gesien het nie betrokke wil raak nie en die slagoffer wat aangeval is ook nie ’n klagte wou aanmeld nie.”
Standard het probeer uitreik na die eienaars van die karnaval, maar alle pogings was onsuksesvol.
Volgens ’n onberispelike bron wat ook die terrein besoek het, was min veiligheidsbeamptes op die perseel teenwoordig.
Die terrein het die dag ná die voorval egter gewemel van wetstoepassers en veiligheidsbeamptes.




