Bendegeweld en -aktiwiteite wat daarmee gepaard gaan, vier steeds hoogty ten spyte van die polisie se fokus om hierdie tendens af te weer.
Verskeie gevalle is verlede week aangemeld met betrekking tot geweld in veral Riverview en dele van Roodewal.
Inwoners het baie gekla oor vuurwapenskote wat in die middernagtelike ure in Riverview afgevuur is.
Hierdie tendens is iets waarmee inwoners al vir jare lank worstel. Hulle meen ook dat vermeende bendelede veral naby die woonstelblokke baklei en sulke situasies taamlik vinnig ontaard.
Maisey Coen, ’n inwoner hier, vertel aan Standard hoe keelvol sy al vir die geweld in Riverview is.
“Dit is soms moeilik om te slaap as die skote rondom jou klap. ’n Mens wonder hoe veilig jy dan nou eintlik is,” kla sy.
Coen sê voorvalle van geweld word amper weekliks aangemeld.
“Dit is nie altyd bendegeweld nie, maar die meeste kere is iemand van ’n bende betrokke. Jy hou maar jou kop laag en jy gaan aan.”
Die plaaslike polisie meen egter hulle gaan altyd dadelik na tonele waar geweld aangemeld word en pas gereeld sigbare polisiëring in alle gebiede in die streek toe.
Allen Simms, ’n aktivis van Youth In Action, ’n organisasie wat daarop gefokus is om bendegeweld die hoof te bied en bewusmaking daaroor te skep, vertel aan Standard die probleem word by die dag groter.
“Bendegeweld is ’n wesenlike probleem in die provinsie. Oor die jare het dit tot talle sterftes, beserings en vernietiging van eiendom gelei, wat die lewe van baie inwoners in die streek beïnvloed het. Bendegeweld is ’n hardnekkige kwessie en sluit talle gewelddadige aktiwiteite, soos moord, afdreiging en dwelmhandel in. Die geweld vind dikwels plaas in die vorm van ’n ‘oorlog’ tussen mededingende bendes wat probeer om grondgebied en dwelmmarkte te beheer. Die geweld kan ook oorspoel na onskuldige omstanders wat in die kruisvuur vasgevang word,” sê Simms.
Die regering het verskeie maatreëls getref om bendegeweld in die Wes-Kaap aan te pak.
Die nasionale regering het ’n spesiale teenbende-eenheid in 2019 in die lewe geroep. Dié eenheid bestaan uit polisiebeamptes wat opgelei is om bendeverwante misdade te hanteer. Die eenheid is gestig met die doel om bendebedrywighede in die streek te ontwrig en uit te skakel.
“Bendegeweld in die Wes-Kaap bly ten spyte van hierdie werk ’n groot uitdaging. Die onderliggende sosiale en ekonomiese toestande wat tot bendes aanleiding gee, bly voortduur. Om die grondoorsake van bendegeweld op te los, is dit noodsaaklik om te belê in maatskaplike programme wat geleenthede vir opvoeding, indiensneming en entrepreneurskap aan jongmense in die townships bied. Hierdie programme kan ’n positiewe alternatief vir ’n bendelewe bied en help om jongmense te keer om by bendes aan te sluit.”
Volgens Simms behoort wetstoepassingsagentskappe toegerus te word met die nodige hulpbronne en ondersteuning om bendegeweld doeltreffend aan te durf. Dit sluit in om polisiebeamptes van beter opleiding en toerusting te voorsien om die komplekse aard van bendegeweld te hanteer.
“ ’n Mens kan sien dat die polisie hul bes probeer, maar meer sal gedoen moet word om die probleem in die kiem te smoor.”

