Skoolhoofde wat opleiding ontvang het, is Nicolaas Pedro (Bothas Halte Primêr), Charles Visagie (Slanghoek Primêr) en Llowellyn Syce (Breedevallei Vaardigheidskool).


Plaaslike skoolhoofde het ’n spesiale opleidingsprogram voltooi wat hulle toegang gee tot kennis, vaardighede en ondervinding in die Breedevallei-streek.

Partners for Possibility, die vlagskipprogram van Citizen Leader Lab, is vroeg in Junie gehou, met ’n tweede leierskapgroep wat in die Witzenberg-streek, Slanghoek en Breedevallei opgelei is. Skole wat betrek is, is Bothas Halte Primêr, Slanghoek Primêr en die Breedevallei Vaardigheidskool.

Jessica Batts, fasiliteerder van die program in die Wynland en Overberg, sê bekende leiers uit die sake- en landbougemeenskappe van die Vallei het hulle beskikbaar gestel om in vennootskap met die skoolhoofde wat opgelei is, vaardighede, kennis, ondervinding en netwerke te deel.

Volgens Batts is dit ’n enorme opoffering, maar die bereidwilligheid van die sakeleiers was oorweldigend.

“Hulle het net een doel voor oë, en dit is om ’n merkbare verskil in ons plaaslike skoolgemeenskappe te bewerkstellig,” sê Batts.

Partners for Possibility (voorheen bekend as Symphonia for South Africa) is ’n nasionale, multi-dissiplinêre inisiatief wat daarna streef om die opvoedkundige doelwitte van die nasionale departement van basiese onderwys en die Nasionale Ontwikkelingsplan 2030 te verwesenlik.

Sedert sy ontstaan het die program reeds meer as 1 700 skoolhoofde bemagtig, wat weer ’n blywende impak op meer as een miljoen leerders gehad het.

Wat dit behels:

  • Skoolhoofde voltooi ’n pasgemaakte ontwikkelingsprogram wat formele opleiding kombineer met sosiale leer en eksperimentele leer, met die hulp van ’n professionele lewensafrigter.
  • Vir ’n tydperk van een jaar (150 ure se opleiding ingesluit) word skoolhoofde toegerus met die vaardighede en kennis om verandering in hul skole te bring en sodoende ’n bydrae te lewer tot die vooruitgang van die skool.
  • Skoolhoofde word bemagtig om stelselmatige en volhoubare verandering teweeg te bring, sodat hulle gehalteonderwys aan almal kan verskaf. Dit is ’n voorvereiste vir ekonomiese ontwikkeling.
  • Gemeenskappe word geïnspireer tot aksie en deelname, sodat oplossings vir probleme en uitdagings gevind kan word.
  • Die program is gebaseer op die beginsel dat die skool die sleutel tot verandering in die onderwysstelsel is.
  • Dit steun op die beginsel dat ’n skip nie kan vaar sonder ’n bekwame kaptein en ’n opgeleide bemanning nie.
  • Vennootskappe word gestig tussen hoofde van minderbevoorregte skole en sakeleiers.
  • Hoofde word vennote en lid van ’n span onder leiding van ’n bekwame fasiliteerder.
  • Die program ontwikkel ’n vennootskap wat die skool se spesifieke behoeftes die hoof bied.
  • Dit verkry die betrokkenheid van die gemeenskap om aktief by die implementering van die skool se spesifieke plan betrokke te raak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article