Veronica Adams het haar slagoffers om vergifnis gaan vra. Foto: Enrico Claassen


Op skool was sy onbeskof met die onderwysers en het kinders gereeld geboelie deur hulle te klap en te slaan vir hul skoolbrood. Volgens haar was sy “daai meisie” en het vir niemand teruggestaan nie.

Min het Veronica Adams (42) van Worcester geweet dat dít wat sy as kind aan daardie weerlose kinders gedoen het, ook een van haar kinders se lot gaan wees.

Adams, wat tans die hoof van Haasbekkie Kleuterskool in Lemoenpoort buite Worcester is , sê sy is een van agt kinders. Haar biologiese ma is oorlede toe sy maar ses maande oud was.

Sy sê omdat hulle so baie kinders was en haar pa die enigste broodwinner was, was daar nooit ’n geleentheid om vir almal skoolskoene en -klere te koop nie.

“Ek was ’n boelie op laerskool. Ek het dit nie besef nie.”

Adams sê as kind was daar twee kinders wat gereeld onder haar deurgeloop het.

“Ek het hulle brood afgevat, en as hulle dit nie wou gee nie, dan het ek hulle geslaan en geklap, en dan gee hulle hul brood vir my.”

Sy sê al kon sy nie regtig baklei nie, het haar stem en houding vrees by dié kinders ingeboesem.

Adams is die ma van drie kinders. Sy sê in 2015, toe sy en haar gesin in Oudtshoorn gewoon het, het sy agtergekom dat haar oudste seun, Matthew, baie ongelukkig lyk wanneer hy van die skool af terugkeer huis toe.

“As ek hom gaan oplaai by die skool, het hy huilend by die skoolhek uitgestap, maar wou my nie sê wat gebeur het nie.

“Eendag kom hy toe met ’n blou oog huis toe en sy hemp se knope is afgeskeur. Ek het gevra wat aangaan, want ek het die vorige paar dae opgelet hy is nie oukei nie.”

Volgens Adams het Matthew haar toe vertel dat twee seuns hom gereeld by die skool slaan, terwyl hy niks aan hulle doen nie. Adams sê haar seun het haar meegedeel hy wil nie meer skool toe gaan nie.

Volgens Adams het sy ingegaan op die saak en vasgestel haar kind word geboelie.

Sy sê op ’n dag toe was sy baie hartseer oor dit wat met haar seun gebeur het. Volgens haar het haar hele laerskool-loopbaan voor haar afgespeel, en dis toe dat die spyt haar tref.

Sy sê in daardie stadium het sy nie geweet dat sy – as kind – kinders geboelie het nie, en hier sit sy met ’n geval waar haar eie seun geboelie word.

Adams sê baiekeer doen ’n mens goed, dan besef jy nie dit gaan op ’n dag terugkom na jou toe nie.

“Ek het gebid en bely teenoor die Here en vergifnis gevra. Ek het nie gereeld brood skool toe geneem nie en ek was honger.”

Volgens haar het sy – as volwassene – besluit om ’n afspraak met haar slagoffers te maak. Sy sê sy het bely teenoor hulle en hulle om vergifnis gevra vir dit wat sy op skool aan hulle gedoen het.

“Ek het die vloek wat ek onwetend oor my kinders geplaas het, gaan afhaal en ek het vir die Here gevra om hulle te beskerm.

“Wat ’n mens saai, maai jy – positief of negatief – maar met die hulp van die Here het die kinders nie weer my seun geboelie nie – en ek eer die Here vir daarvoor.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article