Hoërskool Robertson-leerders het onlangs hul reis na wynmakers begin.
Die skool het sy eerste druiwe in 2021 geplant.
“Ons het in 2021 twee landbouvakke by die skool infaseer. Een van die vakke het ’n praktiese komponent, en dis hoe die idee van die wingerd vorendag gekom het,” verduidelik die skool se hoof, Jacques Bradford.
Die leerders het meer as 2 400 plantjies op ’n stuk grond langs die koshuis geplant.
“Daai stuk grond is glo ook in die verlede vir landboudoeleindes gebruik. Ons het toe weer die grond bewerk en in ’n wingerd omgeskep. Daar was soveel mense betrokke by hierdie projek – veral ons vorige bemarker, Hatting van Dyk. Ons het deur hom ook die plantjies as ’n skenking ontvang. Soveel ander mense het ook ’n rol in die oprigting van die wingerd vervul. As ek name begin noem, is ek net bang ek vergeet iemand.”
’n Ruk nadat die skool met die projek begin het, het die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) “snuf in die neus gekry” en die skool met ’n voorstel genader.
“Die vakadviseur het toe by die WKOD aansoek gedoen vir ’n wynverwerkingsaanleg. Die departement het toe R1, 2 miljoen vir die skool bewillig en die geld is gebruik om ’n kleinskaalse kelder by die skool op te rig. Ons het gegaan van uit ’n skeepsvraghouer werk na die ou houtwerkklas, en ’n gedeelte van die stoep wat ons toegebou het.”
Die departement het ook toerusting aan die projek geskenk.
“Die keldertoerusting wat die departement geskenk het, is puik,” verduidelik Abé Roussouw, ’n afgetrede kelderbestuurder en wynmaker wat die leerders en die skool met hierdie projek bystaan. “Daar is ’n maalmasjien, tenke, ’n kurkmasjien, ’n vuller en ’n verkoelingstelsel, om net ’n paar te noem.”
Bradford sê al is hierdie projek spesifiek vir die leerders begin, leer hy ook baie oor die wynmaakproses.
“Ek leer net so baie. Net soos die kinders leer, leer ek ook elke dag. Ek leer ook nou dat ons ’n dranklisensie gaan nodig hê om die wyn te kan verkoop. Maar ons is besig om alles in orde te kry.”
Die kinders het ook almal saam besluit om die skool se wyn Eerste Oesjaar te noem – “omdat dit elke jaar iemand se eerste oesjaar gaan wees”. Hulle het ook gehelp om die bottel se etiket te ontwerp.
Volgens Brandford is hulle die eerste en enigste skool in Suid-Afrika wat self hul druiwe groei en wyn maak.
Hierdie is ook ’n eens-in-’n-leeftyd-ervaring vir die leerders.
“Ek wil kinders, wat nie noodwendig verder kan gaan leer nie, uit die skool stuur met ten minste hierdie kennis waarop hulle kan bou. Wanneer hulle op ’n plaas kom, dan sal hulle in ’n mate reeds weet wat om te doen,” sê Bradford.
Die projek is ook nie net om die praktiese deel van vakke te dek nie. Leerders skryf ook in hul toetse en eksamens oor wat hulle in die wingerd leer.





