Die Langeberg Senior Sekondêre Skool in Robertson het ’n strafregtelike klagte teen die kleremaatskappy Rhino Brands aangemeld omdat die maatskappy die skool glo altesaam R62 211 skuld.
So sê Bronagh Hammond, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD), aan Standard Breederivier Gazette.
Die skuld spruit uit ’n voorval in Julie vanjaar toe altesame 240 matriekbaadjies en -mussies glo in Worcester uit die voertuig van die eienaar van Rhino Brands, Colin Rall, se voertuig gesteel is.
AO Vathiswa Jacobs, ’n polisiewoordvoerder, het bevestig Rall het op 25 Julie vanjaar ’n klagte by die polisie aangemeld.
’n Dossier van diefstal vanuit ’n motorvoertuig is glo by die polisie geopen.
Jacobs sê Rall beweer hy het sy voertuig op die dag van die voorval oorkant Kerkplein in Kerkstraat, Worcester, parkeer.
Al die voertuig se vensters was toe en die deure, behalwe vir die agterdeur aan die bestuurder se kant, was blykbaar gesluit.
Toe hy terugkeer na die voertuig het hy gesien die klere en veiligheidskoene wat in die voertuig was, is weg.
Volgens Jacobs het die voorval tussen 16:00 en 17:50 plaasgevind.
’n Betroubare bron, wat verkies om anoniem te bly, sê aan Standard Breederivier Gazette Rall was veronderstel om matriekbaadjies en -mussies vir die altesaam 206 matrieks van 2024 en onderwysers van die Langeberg Senior Sekondêre Skool te maak.
Die bron sê die skool het aanvanklik drie kwotasies by verskillende verskaffers vir die matriekbaadjies en -mussies gekry. Die leerders het egter Rall se ontwerpe bo dié van die ander verskaffers gekies omdat hulle daarvan gehou het.
Volgens die bron het Rall persoonlik tot by die skool gekom en monsters van die baadjies en mussies kom wys.
“Die skool was gereeld met hom in kontak oor die baadjies en mussies. Hy het ook foto’s van dit wat reeds voltooi was, aan die skool gestuur. Die leerders was dol daaroor.”
Volgens die bron sou al die baadjies en mussies vanjaar in die Junie-skoolvakansie voltooi gewees het en afgelewer word.
Die bron sê Rall het egter toe verskoning gemaak en die skool laat weet dat hy die baadjies en mussies nie in die Junie-skoolvakansie gereed sal hê nie omdat die borduurwerk langer neem as wat hy verwag het.
Volgens die bron het die sakeman onderneem om die baadjies en mussies in die tweede week van die nuwe skoolkwartaal gereed te hê.
“Toe die tyd aanbreek vir hom om die produkte af te lewer, het hy die een verskoning na die ander gehad. Hy het kwaad geraak toe hy daarvan beskuldig word dat hy besig is om die skool te bedrieg.”
Volgens die bron het Rall die skool toe laat weet die 240 matriekbaadjies en -mussies is uit sy voertuig gesteel.
Die bron sê toe die skool die slegte nuus aan die matrieks oordra, was hulle kwaad en teleurgesteld omdat hulle uitgesien het na hul matriekbaadjies en -mussies.
“Die kinders kom uit ’n minderbevoorregte gemeenskap en het die R550 vir die baadjies en mussies stukkie vir stukkie afbetaal.”
Die bron sê die skool moes intussen haastig ander matriekbaadjies en -mussies by ’n plaaslike verskaffer laat maak.
In September vanjaar het Rall aan Standard Breederivier Gazette gesê: “Ons het deur middel van ons prokureurs gereël om elke Vrydag R5 000 in die skool se rekening te betaal.”
Hy het gesê dat hy in daardie stadium reeds R15 000 aan die skool terugbetaal het. “As ons meer kan betaal, sal ons.”
Rall het dié stelling gemaak in reaksie op aantygings dat hy ’n regeringskontrak om die meer as R70 000 se skuld aan die skool terug te betaal, op die datum waarop ooreengekom is, verontagsaam het.
Volgens Rall het hy die skool ingelig dat die baadjies en mussies uit sy voertuig gesteel is.
“Met al die reën het die besigheid maar gesukkel. Dit was moeilik. Dit was een van ons stilste winters en dit is so aan die skool oorgedra. Ons het ook ’n verlies gehad – nie net hulle nie.
“Ek is steeds in kontak met die skool. Hulle is oor die diefstal in kennis gestel. Ons het aan die skool genoem sodra die besigheid begin optel, sal ons die geld aan hulle terugbetaal.
“Ons wil die geld voor einde November afbetaal voordat die matrieks die skool finaal verlaat sodat hulle hul geld kan kry.”
Rall sê die geld wat sy onderneming aan die skool terugbetaal, kom nie uit die sak van die kliënt nie, maar uit die maatskappy se winste.
“Hulle maak nou my besigheid seer. Ek het bestaande kliënte in die omgewing. Ons probeer die ding op ’n mooi manier uitsorteer.”
Hammond sê die laaste betaling wat die skool ontvang het, was op 5 Oktober. Die bedrag van R62 211 is tans nog uitstaande.
“Dit is uiters ontmoedigend om te hoor dat die geld nie aan die skool terugbetaal is nie. Ons is hoopvol dat die polisie so gou moontlik hieroor kan besluit en dat die skool die totale bedrag uitstaande geld terugbetaal word,” sê Hammond.
Rall het al vantevore met die gereg gebots in verband met soortgelyk transaksies.



