Tashwill Isaacs is Vrydag kort ná skool noodlottig gesteek.Foto:


’n Hexvallei Sekondêr-leerder se afsterwe het die De Doorns- gemeenskap geskok.

Dit was veronderstel om ’n dag te wees waar hy huis toe kom. Poegaai en oorgehaal om ’n bietjie af te skakel ná ’n normale skoolweek, maar dit was glad nie die geval nie. Alles behalwe.

Tashwill Isaacs het toe nooit soos oudergewoonte ná skool by die huis opgedaag nie.

Tashwill is Vrydagmiddag (24 Mei) in ’n messteekvoorval dood. Volgens verskeie bronne het die voorval binne die skool begin en na buite beweeg toe dié 16-jarige vir sy lewe moes vlug.

“Die oorledene en die verdagte wat hom gesteek het, het glo verlede Dinsdag gestry. Die oorledene het glo die verdagte se neef geklap. Hulle het mekaar glo heel week by die skool aangegluur en Vrydag toe breek daar weer ’n bakleiery tussen die twee uit. Die verdagte en drie ander leerders het die oorledene gejaag en hy is toe buite die skool gesteek. Hy is eenkeer aan die regterkant van sy rug gesteek. ’n 17-jarige het hom gesteek,” het ’n woordvoerder van die De Doorns-polisie verduidelik.

Die skool se hoof wou nie kommentaar lewer nie, maar het wel navrae na die voorsitter van die beheerraad verwys.

Volgens die nuutverkose voorsitter, Pat Januarie, is dissipline in ’n baie beter toestand in die skool in vergelyking met verlede jaar, ten spyte van die feit dat daar reeds ’n paar messteekvoorvalle vanjaar plaasgevind het.

“Op die oomblik het ons agt nuwe sekuriteitswagte wat ons help om leerders in die klasse te hou. Maar ongelukkig kon hierdie poging nie die 16-jarige seun se lewe beskerm nie,” het Januarie gesê.

Maria Kiewiet, wat vir Isaacs grootgemaak, het gesê sy familie is gebroke.


“Dis ’n seun wie se familie verpletter is. Gebroke en onseker as gevolg van vrae waarop daar nie antwoorde is nie. Hy was ’n nederige seun met ’n goeie hart. Ek het die prinsipaal van die skool gevra van die gebeure, maar hy weet glo niks nie. Dit was ook nie die eerste messteekvoorval van die jaar nie,” het ’n emosionele Kiewiet gedeel.

Hexvallei Sekondêr het die volgende boodskap op hul Facebook-blad gedeel: “Goeienaand ouers en leerders. Op Vrydag het ons een van ons leerders aan die koue hand van die dood verloor. Hiermee wil ons as skoolgemeenskap van Hexvallei Sekondêre Skool ons innige meegevoel betuig aan die ouers en familie van Tashwill Isaacs. Mag die Hemelse Vader vir u almal versterk in hierdie verskriklike moeilike tyd,” lui die boodskap.

Hulle het ook Maandagoggend ’n roudiens by die skool gehou voor die leerders hul eksamens afgelê het.

Die polisiewoordvoerder het ook bevestig dat vier seuns – twee 17-jariges, ’n 19-jarige en ’n 15-jarige – in verband met die moord in hegtenis geneem is. Dit is in hierdie stadium nog onduidelik watter klagtes, behalwe moord, hulle in die gesig staar.

Standard & Gazette het na die Wes-Kaapse onderwysdepartement uitgereik rakende die voorval. “Die departement het die skool van ondersteuning met berading voorsien. Die departement betuig ook sy innige meegevoel aan die familie en vriende van die leerder sowel as die skoolgemeenskap,” het Unathi Booi, ’n woordvoerder, gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article