Die Kaapse Wynland-onderwysdepartement het opvoeders van die Sandhills, Goudini Bad- en New Orleans- primêre skole vir hul veerkragtigheid en toewyding op Wêreld Onderwysersdag, wat op 18 Oktober gevier is, by ’n glansgeleentheid in die Paarl vereer.
Hierdie skole het erkenning gekry vir hul onwrikbare verbintenis tot onderrig en leer ten spyte van uitdagende omstandighede toe leerders van dié skole vroeër noodgedwonge na ander skole uitgeplaas moes word ná erge stormweerskade wat aan die skole aangerig is.
Hoërskool Hexrivier het leerders en opvoeders van Sandhills Primêr gehuisves, terwyl die Breedevallei Skool van Vaardighede gasheer was vir leerders en onderwysers van Goudini Bad Primêr.
Voorts is leerders en opvoeders van New Orleans Primêr in die Paarl deur die primêre skole Amstelhof, Orleansvale en Nieuwe Drift geakkommodeer.
Noel Petersen, distriksdirekteur van die Kaapse Wynland-onderwysdistrikskantoor, sê in die lig van Wêreld Onderwysersdag het die fokus vanjaar op die waarde van veerkragtigheid geval.
“Ons het gevind daar is drie skole in ons distrik wat die toonbeeld van veerkragtigheid is en wat ten spyte van alles vir die beswil van die kind en die gemeenskap persoonlike opofferings gemaak het.
“Leerders en onderwyspersoneel moes inderhaas as gevolg van stormskade aan skole en paaie na ander skole uitgeplaas word.”
Volgens Petersen het stormweer die skoolgebou van New Orleans Primêr in die Paarl verlede jaar in Oktober só erg beskadig dat die gebou nie vir onderrig geskik was nie.
Hy sê sedert Oktober verlede jaar tot vanjaar is leerders en personeel van New Orleans Primêr na die Orleansvale-, Amstelhof- en Nieuwe Drift- primêre skole uitgeplaas.
“Pleks van skool toe stap, moes leerders van New Orleans Primêr daagliks gebruik maak van busvervoer met opvoeders wat die situasie gekoördineer en besluit het watter kinders gaan na watter skool.
“Hulle het vir bykans ’n jaar hiermee volgehou.”
Petersen sê ten spyte van dié uitdagings het onderrig onverpoosd voortgegaan.
Volgens hom het die onderwysers van New Orleans Primêr nie vir een oomblik gekla nie.
Die herboude skool is in die tweede helfte van vanjaar aan die gemeenskap teruggegee.
Volgens Petersen het vloedwater ook die skoolgebou van Sandhills Primêr verlede jaar beskadig. Die skool moes ontruim word.
“Sedertdien reis die sowat 350 leerders en hul opvoeders daagliks van Sandhills na die Hoërskool Hexvallei, waar hulle tydelik geakkommodeer word. Onderrig gaan steeds voort.”
Volgens Petersen het vloedwater die pad, wat na die Goudini Bad Primêre Skool lei, verlede jaar heeltemal weggespoel. As gevolg van dié vloedskade was toegang tot die skool onmoontlik.
Hy sê leerders en opvoeders van Goudini Bad word deur die Breedevallei Vaardigheidskool geakkommodeer.
Petersen sê die skole wat gasheer vir die geaffekteerde skole gespeel het, is ook erken en beloon.
Dr. Gillian Arendse, bestuurder van kommunikasie en belanghebbende betrekkinge by NRF-iThemba LABS, het die hooftoespraak by die glansgeleentheid gelewer.
Arendse, ook ’n kernfisikus en bekende motiveringspreker, se boodskap van veerkragtigheid en passie het die teenwoordiges geïnspireer.
Dr. Nadene Moolla, ’n opvoedkundige sielkundige en navorsings- en ontwikkelingsbestuurder by Marang Education Trust, se motiveringspraatjie het veral gefokus op emosionele intelligensie en die belangrikheid van sorg en ondersteuning in die onderwys.
Benewens dié vieringe, is die Primêre Skool Mooi Uitsig in Ceres vereer vir sy uitstaande prestasie deur onder die top-drie skole in die nasionale toekennings vir onderwysuitnemendheid te wees, wat sy toewyding aan inklusiewe onderwys weerspieël.




