Skole moet verseker dat enige uitstaande beskikbare plek vir die 2023-skooljaar teen 19 Julie gevul word, sê die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD).
Ouers wat vroeër vanjaar aansoek op die WKOD se toelatingswebwerf gedoen het, het tot verlede Vrydag (17 Junie) gehad om ’n plek by skole te bevestig waar hul kinders aanvaar is.
Indien ouers dit nie gedoen het nie, sal die toelatingswebwerf outomaties die eerste skool kies waar die kind aanvaar is.
“Dit geld veral vir leerders wat by meer as een skool aanvaar is. Sodra ’n plek bevestig is, sal alle ander suksesvolle aansoeke teruggetrek word. Dit sal baie beskikbare plekke by skole vir leerders op waglyste vrystel,” verduidelik Bronagh Hammond, ’n woordvoerder van die WKOD.
Hoewel talle kinders nie by ’n skool aanvaar is nie, sê Hammond, bestaan ’n term soos ’n “ongeplaaste leerder” vir 2023 nie tans nie.
“Die WKOD het nog nie sy toelatingsproses voltooi nie en ons is reeds ses maande in die nuwe skooljaar. Ons verwerk nog aansoeke. Daarom sal dit verkeerd wees om na leerders as ‘ongeplaas’ te verwys, aangesien ons nog nie die proses voltooi het nie en nou eers besig is om die eerste fase te finaliseer.”
Die hoof van die departement, Brent Walters, het onlangs ’n beroep op skole gedoen om hul aansoeklyste teen die einde van hierdie week te hersien. Aangesien skole môre sluit, het Walters gevra skole met beskikbare plekke moet soveel ouers moontlik wie se kinders nog op waglyste is, kontak.
Die WKOD doen ook ’n verdere beroep op ouers wie se kinders volgende jaar in graad R, graad 1 of graad 8 moet wees, om aanlyn aansoek te doen indien hulle dit nog nie gedoen het nie.
- Ouers kan vir hul kinders aansoek doen deur die WKOD se toelatingswebwerf by https://admissions.westerncape.gov.za/admissions/login.


