Die gemeenskap van De Doorns is geskok oor ’n video wat die ronde doen van ’n vrou wat na bewering in ’n drinkplek verkrag word.

Credit: SYSTEM

’n Facebook-inskrywing oor ’n video van ’n jong vrou wat vermoedelik verkrag word, het verlede week opslae op die De Doorns- gemeenskapsblad op Facebook gemaak.

’n Sosialemedia-gebruiker het geskryf sy het ’n video-opname gesien waarin ’n jongman na bewering ’n vrou verkrag ten aanskoue van ander mans in GG-kamp, De Doorns.

“Ek kom op ’n video af waarin ’n vrou verkrag word in haar dronkenskap voor die drinkplek Jackies Inn. Die video doen die ronde van hoe ’n klong die vrou loop en rape en ’n groterige man hits hom aan. Wat my siek maak, is jy hoor ’n vrou se stem ook. Is dit hoe ’n mens met mekaar leef?” [sic], lui ’n gedeelte van die inskrywing.

Toe Standard & Gazette Donderdag by die De Doorns-polisie navraag doen hieroor was daar in daardie stadium nog nie so ’n saak aanhangig gemaak nie. Vrydagmiddag het ’n woordvoerder van die De Doorns-polisie laat weet dat die vrou wat glo in die video verkrag word wel ’n saak gaan maak het.

Volgens Hayley Marran, ’n aktivis vir vroueregte in De Doorns, kan daar gehoor word hoe die persoon wat die video skiet die man aanhits om die vrou te verkrag.

“Daar is ook ’n vrou wat heeltyd kommentaar lewer terwyl die dinge aan die gebeur is.”

Sy verduidelik ook dat sy met die slagoffer in die video gaan praat het.

“Toe ek by haar kom was sy besig om pille uit te tel, want sy wou haar eie lewe neem. Dit was nadat iemand vir haar die video gestuur het. Volgens haar het sy nie geweet wat met haar gebeur het tot sy die video gesien het nie.”

Marran verduidelik die jong vrou het aan haar verduidelik dat sy net tot op ’n sekere punt kan onthou.

“Sy was saam met twee vriendinne by die klub. Toe kom sê die mannetjie vir haar hulle moet buite ’n bier gaan drink. Sy het niks daarvan gedink nie, want sy ken hom, hy is een van haar broers se vrinde en ’n huiskind by hulle.

“Verder het sy vertel sy en een van haar vriendinne het saam met hom buitentoe gegaan. Verder onthou sy net tot op ’n sekere punt en niks anders nie. Die laaste ding wat sy onthou is dat haar vriendin die toilet moes gaan gebruik,” verduidelik Marran.

Standard & Gazette het weer Maandag met die polisie oor die saak gekommunikeer, maar is in kennis gestel dat daar nog nie ’n saak hieroor aanhangig gemaak is nie.

Lenishia Frank, ’n verteenwoordiger van Women on Farms-projek, ’n organisasie wat vir die regte van plaasvroue baklei, het ook gesê ’n saak is nog nie geopen nie.

“Toe sy na die Thuthuzela Care Centre gegaan het, het hulle die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (GKS) in kennis gestel. Hulle het nie ’n saak oopgemaak nie, maar wel ’n ondersoek begin om vas te stel of die video mee gepeuter of gemanipuleer was.

“Die slagoffer wil graag ’n saak open, maar sy word nie toegelaat nie. Sy is vreesbevange en die feit dat al die beamptes wat haar help mans is, maak dit nog moeiliker.”

Frank kan nie die polisie se traagheid om ’n saak van verkragting te open, verstaan nie.

“Verkragting is verkragting. Dit word duidelik gesien in die video hoe die vrou verkrag word. Almal betrokke by daai video moes in hegtenis geneem gewees het.”

Women on Farms beplan Donderdag 29 Februarie ’n betoging voor die GKS-kantoor in Hoogstraat, Worcester.

“Ons gaan nie loop voor hulle daai man in hegtenis neem nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article